OUDTSHOORN NUUS - Moonlight-sokkerklub van Dysselsdorp het 'n uitdagende maar lonende naweek beleef toe hulle na Plettenbergbaai en Knysna gereis het vir twee belangrike wedstryde in die Hollywoodbets-streekligabyeenkoms.
Die span het hul eerste kragmeting in Plettenbergbaai teen Bitou Young Pirates gehad.
Alhoewel hulle met 3 - 1 die knie moes buig, het Cornelius Bessie daarin geslaag om 'n doel vir Moonlight aan te teken, wat hul veggees ten spyte van die nederlaag weerspieël het.
Die span het egter sterk teruggekeer in Knysna en 'n opwindende oorwinning van 4 - 3 oor Red Eagles behaal. Dit was 'n aksiebelaaide wedstryd met doelpunte wat deur Barenito Lewis, Cornelius Bessie, Byron Jaftha en Brenwill Miggels aangeteken is.
Hierdie oorwinning hou Moonlight steeds in die wedloop vir sukses in die liga en versterk hul aanspraak as 'n mededingende span.
Hulle is tans vyfde op die leer.
Na afloop van die wedstryde het Keanan du Plessis, voorsitter van die klub, sy trots uitgespreek oor die span se deursettingsvermoë. "Ondanks die terugslag in Plettenbergbaai het die jongmanne ongelooflike karakter in Knysna getoon. Elke wedstryd is 'n leergeleentheid, en ons is daartoe verbind om as 'n span te verbeter en te groei," het hy gesê.
Nou verskuif Moonlight hul fokus na hul komende tuiswedstryde wat op 8 Februarie plaasvind. Hulle sal om 12:00 teen Sea Birds te staan kom, gevolg deur 'n kragmeting teen Simunye om 16:30.
Ondersteuners word aangemoedig om in groot getalle op te daag en die span te ondersteun.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’