OUDTSHOORN SOKKERNUUS - Die groot stuk veld langs Dassieweg is die afgelope drie weke gasheer vir vriendskaplike sokkerwedstryde vir die jeug in die buurt.
Volgens Bino Jackson, werker by die Oudtshoorn-munisipaliteit se reinigingsdienste, word dié wedstryde uitsluitlik Sondae gespeel.
Jackson, wat ook die spelers se afrigter en skeidsregter is, sê dat die jonger seuns gewoonlik Sondagoggende van hul energie op die sokkerveld ontslae raak, terwyl die groter manne mekaar in die middae pak.
"Hierdie is 'n gemeenskapinisiatief wat ek op die been gebring het om die seuns van kattekwaad weg te hou. Veral nou in lockdown weet die jong klomp nie aldag wat om met hulle tyd te doen nie, en soos die spreekwoord sê, ledigheid is die duiwel se oorkussing. Sedert ons met hierdie wedstryde begin het is dit duidelik dat hier uitsonderlike talent onder die seuns is. Met die regte leiding en blootstelling is ek doodseker dat hulle dit vêr sal bring."
Jackson sê dat hy in die toekoms beplan om amptelike sokkertoernooie te hou om ook die res van Oudtshoorn se jeug te betrek.
Volgens Jackson verskaf hy self die sokkerballe- en truie en het hy ook toegesien dat die stuk veld netjies uitgekalk is.
Sokkerspanne van Leeubekkieweg en Dassieweg in aksie. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'