DYSSELSDORP SOKKERNUUS - Moonlight-sokkerklub van Dysselsdorp het die afgelope naweek hul titel vir die derde agtereenvolgende jaar suksesvol verdedig tydens die jaarlikse Paasnaweek sokkertoernooi wat op Dysselsdorp se sportterrein plaasgevind het.
Die Oudtshoorn Football Association (OLFA) het soos verlede jaar weer die toernooi aangebied. Volgens een van die organiseerders, Levesto le Roux, was dié sokkertoernooi baie geslaagd en was die toernooi in 'n baie goeie gees gespeel.
Sowat 5 000 toeskouers per dag het die sokker toernooi bygewoon wat oor vier dae (Vrydag 19 April tot Maandag 22 April) gespeel was. Moonlight het Springbok (sokkerklub van Dysselsdorp) in die finaal met 4-0 geklop en sodoende met die eerste prys van R20 000 kontant, wisseltrofee en 25 goue medaljes weggestap.
Franbin Langeveldt het Moonlight se eerste doel aangeteken in dié wedstryd. Juviano Lewis het kort voor rustyd Moonlight se tweede doel aangeteken. Die rustydtelling van die twee spanne was 2-0. In die tweede helfte het Langeveldt sy tweede doel aangeteken terwyl Barenito Lewis ook die agterkant van die net gevind het om aan Moonlight 'n oortuigende oorwinning te besorg.
Springbok is vir sy tweede plek beloon met R10 000 en 25 silwermedaljes. SpringRoses en United Stars het die derde plek gedeel en het elkeen R3 000 ontvang.
In die B-afdeling waarin 14 spanne deelgeneem het, het Young Blues met die louere weggestap deur Italië met 2-1 te klop. Die wenner het R12 000, wisseltrofee en 25 goue medaljes ontvang, terwyl die naaswenner Italië, R6 000, wisseltrofee en 25 silwermedaljes ontvang.
Bosbou United en Sweety Stars het derde plek gedeel met R3 000 elk.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'