OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn plaaslike sokkervereniging het die afgelope Paasnaweek 'n baie geslaagde sokkertoernooi in Dysselsdorp aangebied.
Die toernooi het in 'n A- (16 klubs) en B-liga (15 klubs) plaasgevind.
In die A-afdeling het Moonlight hul titel suksesvol verdedig, toe hulle United Stars (beide spanne van Dysselsdorp) 4 -1 in die eindstryd gewen.
Volgens Levesto le Roux, president van die Oudtshoorn plaaslike sokkervereniging, het Moonlight die wedstryd van die begin af oorheers. In die eerste helfte het Moonlight se Franbin Lingerveldt en Juviano Lewis (2) drie doele aangeteken. Die rustydtelling was ook 3-0 in Moonlight se guns.
In die tweede helfte het Hershelle van Hansen, United Stars se enigste doel aangeteken. Laat in die tweede helfte het Damian Botha, Moonlight se vierde doel aangeteken.
Met die oorwinning het Moonlight die wisseltrofee, R15 000 en 25 goue medaljes verower. United Stars het R8 000 en 25 silwer medaljes ontvang.
Barcalona van De Rust en Springroses het derde plek gedeel. Elke span het R3 500 ontvang.
Ander uitslae:
Kwarteindstryde:
- Barcalona wen Stars van Prins Albert 3-2
- Moonlight wen Leeds United 3-0
- Springroses wen Springbok met doelskoppe 4-2 nadat die telling 2-2 na voltyd gelykop was.
- United Stars wen De Rust United 3-2
Halfeindstryde:
- Moonlight wen Barcalona 1-0
- United Stars wen Springroses 1-0
B-afdeling:
Waboomskraal-sokkerklub het hul titel vir die derde agtereenvolgende jaar suksesvol verdedig deur Italië-sokkerklub van Dysselsdorp in die eindstryd met 4-0 te wen. Die rustydtelling was 0-0.
Waboomskraal het al vier doele in die tweede helfte aangeteken. Met die oorwinning het hulle die klubtrofee, R10 000 en 25 goue medaljes verower.
Italië-sokkerklub het R5 000 en 25 silwer medaljes ontvang. Silver Stars van Leeu Gamka en Super Strikers van Dysselsdorp het derde plek gedeel.
United Stars was die A-liga se naaswenners.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'