OUDTSHOORN NUUS - Moonlight FC het Maandag hul naam met trots boaan die punteleer geskryf toe hulle as kampioene uit die Paasnaweek-sokkertoernooi getree het.
In 'n spanningsvolle eindstryd het hulle Pirates FC, 'n nuwe toetredende span, met 1 - 0 geklop in wat as een van die mees kompeterende wedstryde van die toernooi beskryf word.
Die wedstryd is beslis deur Cornelius 'Momo' Bessie se deurslaggewende doel, wat Moonlight die welverdiende oorwinning en die trofee besorg het.
Volgens Keanan du Plessis, Moonlight FC se voorsitter, het hulle Vrydag 'n moeilike begin gehad. Hulle het gelykop 1 - 1 teen Atletico van Oudtshoorn gespeel.
"Ons het ná daardie wedstryd diep selfondersoek gedoen," het Du Plessis verduidelik. "Saterdag het ons met 'n nuwe gesindheid opgedaag."
Daardie kopskuif het gou vrugte afgewerp. Sondag het Moonlight die span van Waboomskraal met 'n verstommende 7 - 0 oorrompel, gevolg deur 'n klinkende 6 - 0 sege oor FC Vyuani in die kwarteindstryd.
Die span het die halfeindstryd Maandagoggend teen die 2024-kampioene Leeds United aangepak, en hulle met 'n indrukwekkende 4 - 1 oorwin.
Ná hul oorwinning het Du Plessis die gemeenskap van Dysselsdorp geloof vir hul ondersteuning. "Ons het nie net vir 'n trofee gespeel nie, ons het vir julle gespeel. Hierdie oorwinning is vir elke seun en dogter van Dysselsdorp wat droom, glo en nooit moed opgee nie."
Du Plessis het ook hul borge bedank.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’