DYSSELSDORP NUUS - Die voorsitter van Moonlight Football Club, Keanan du Plessis (24), het ’n belangrike hoofstuk in sy sportloopbaan afgesluit toe hy op 30 Augustus tydens die South African Football Assosiation (Safa) Eden-kongres by die Premier Hotel in Knysna tot algemene sekretaris van Safa Eden verkies is.
Du Plessis, wat die afgelope jare ’n prominente rol in plaaslike sportadministrasie gespeel het, neem nou sy ervaring van klubvlak na die breër Eden-streek.
Sy reis in sportbestuur het reeds op ’n jong ouderdom begin. In 2022, op 19, is hy as sekretaris van Dysselsdorp Rangers-rugbyklub aangewys. Twee jaar later, op 21, het hy voorsitter van Moonlight FC geword.
Hy het sedertdien ’n belangrike rol in die administrasie en ontwikkeling van die sokkerklub gespeel, met ’n fokus op onder meer spelersontwikkeling, klubgroei en die kommersiële ontwikkeling van die span.
Vir Du Plessis is sy afskeid van Moonlight egter meer as bloot die einde van ’n bestuursposisie.
Die klub het volgens hom ’n belangrike rol gespeel in sy ontwikkeling as jong leier en sportadministrateur.
“In ’n klein plaasdorpie soos Dysselsdorp waar almal vir almal ken, kan ’n mens letterlik die verskil sien wanneer iemand homself met sportaktiwiteite besig hou, al dan nie.”
Du Plessis glo sport kan ’n betekenisvolle rol speel in die ontwikkeling van jong mense, veral in kleiner gemeenskappe waar sport dikwels ’n belangrike uitlaatklep en bron van geleenthede is.
Met sy verkiesing as algemene sekretaris van Safa Eden beweeg hy nou na ’n streeksvlak waar sy verantwoordelikhede aansienlik groter sal wees.
Die nuwe Safa Eden streeksuitvoerende komitee is tydens die kongres verkies en sal verantwoordelik wees vir die bestuur en ontwikkeling van sokker in die Eden-streek.
As algemene sekretaris sal Du Plessis betrokke wees by die administrasie en funksionering van streeksokker, asook die ondersteuning van die verskillende plaaslike sokkerverenigings en ander strukture binne Safa Eden.
Sy verkiesing op slegs 24 plaas hom onder die jonger leiers in die streek se sokkeradministrasie.
Vir iemand wat sy eerste bestuursrol op 19 aanvaar het, is sy jong ouderdom egter geen nuwigheid nie.
Van sekretaris van ’n rugbyklub, tot voorsitter van ’n sokkerklub en nou algemene sekretaris van ’n streekstruktuur, het Du Plessis binne ’n kort tydperk toenemende verantwoordelikheid in sport aanvaar.
Sy tyd by Moonlight het hom ook aan die praktiese uitdagings van sportbestuur blootgestel, waaronder finansies, borgskappe, spelersake, administrasie en gemeenskapsbetrokkenheid.
Hoewel hy nou van Moonlight afskeid neem, bly die klub en Dysselsdorp ’n belangrike deel van sy sportreis.
As algemene sekretaris van Safa Eden gaan hy nou die geleentheid hê om sy ervaring op ’n ander vlak toe te pas en betrokke te wees by die ontwikkeling van sokker in die breër Eden-streek.
Van die sportvelde van Dysselsdorp tot die bestuurstrukture van Safa Eden, het Du Plessis binne enkele jare opgang gemaak in plaaslike sport.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’