OUDTSHOORN NUUS - 'n Fees van sport en Kersvieringe het Vrydag 22 Desember by Lategansvlei se sokkerstadion, Stadion An der Alten Försterei 2, geheers.
Die eienaar en inisieerder van Stadion An der Alten Försterei 2, 'n aanliggende vlugbalbaan, asook 'n naaldwerkklas en ander rekreasie fasiliteite, Dario Urbanski, het met die hulp van die Lategansvlei-gemeenskap, asook Anel Berry en Wimpie de Jager van die Oudtshoorn-munisipaliteit 'n middag van feesvieringe vir die Lategansvlei kinders gereël.
Die Lategansvlei-sokkerspan, vlugbalspan, Lara Meyer se naaldwerkklas en ander inwoners is vir hul 2017 deelname aan Stadion An der Alten Försterei 2 se aktiwiteite, met 'n smaaklike braai en ander verversings beloon. Sportklere is ook aan die kinders oorhandig.
Die Lategansvlei-vrouekoor het die gaste vermaak met Kersliedere. Voor die feesmaal het die Lategansvlei-vlugbalspan 'n DA-vlugbalspan in 'n vriendskaplike wedstryd aangepak. Die wedstryd se R500 prysgeld is aan Meyer geskenk om aan haar opleidingsentrum te spandeer.
Groot opgewondenheid het geheers toe Kersvader met groot sakke vol geskenke by die verrigtinge opdaag.
Urbanski het die feesvieringe as "'n wonderlike dag" beskryf.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'