OUDTSHOORN NUUS - Die Eden Football Academy (EFA) het verlede week sokkertoerusting van Charles Isaacs, Cheryl Dixon Raatz en Nolan Ellis ontvang.
Volgens een van EFA se lede, Jonathan Serfontein, is die sokkerakademie verlede jaar gestig en sal hierdie ruim skenking handig te pas kom om sokker op voetsoolvlak vanaf 8 tot 13 jaar ouderdomsgroepe af te rig.
Serfontein sê dit is die EFA se visie om sokker 'n krag en erkende sport in die gemeenskap te maak soos wat tans die geval met krieket en rugby is.
"Ons het aanvanklik begin deur al ons primêre skole te nader om ons missie aan die skoolhoofde te verkoop met De Villiers, Bersig en Bongolethu Primêre skole wat dadelik aan boord was.
"Ons kon ongelukkig nie hul skoolvelde gebruik nie omdat dit onveilig en onspeelbaar was. Dit het ons egter nie gestop nie en het ons toe besluit om meeste van ons sokkerproewe sommer op die oop stuk veld in Dassieweg te hou wat goed deur die gemeenskap ontvang is.
"Alhoewel Colridge Primêr ingestem het om hulle velde beskikbaar te stel, ondervind ons tans uitdagings om sommige van die skole se sportvelde skoon te skraap sodat ons sokker kan ontwikkel."
Tans vind die sokkerproewe vanaf 15:00 tot 16:30 vir seuns en meisies by bogenoemde skole plaas.
EFA bied ook op 9 April 'n sewe-aan-'n-kant-mini-sokkertoernooi aan by die Infanterieskool se sportvelde. Enige instansie wat EFA wil bystaan om sportvelde te skraap, kan Serfontein by 071 33 55 483 kontak.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'