OUDTSHOORN NUUS - Adias RFC van Volmoed het verlede Vrydag 'n weghol-oorwinning teen Young Leaves van Waboomskraal gehad. Dit was die Karoo-span se eerste wedstryd van die seisoen.
Hul eindtelling was 27-0 en teen halftyd was die span reeds 17-0 voor.
Volgens Lionel Prinsloo, Adias se afrigter, is hy baie beïndruk met die span se verdediging.
"Ons verdediging was definitief ons sterkste punt, maar ons sal moet hard oefen aan die agterlyn. Ons agterspelers het baie foute, maar ons glo dit sal dié naweek beter gaan. Ons voorspelers het definitief die grondslag vir die oorwinning gelê."
Charlton Prinsloo, Adias se buitesenter, het sy goue skopskoene vir die eerste wedstryd aangehad en het twee doelskoppe en 'n strafskop deur die pale gejaag. Phillip Arries (binnesenter) en Realdo Muller (agtsteman) het elk vir een drie gesorg terwyl Piet Dondas, die skrumskakel, twee keer agter die doellyn gaan kuier het.
Prinsloo sê agterspelers wat uitgeblink het was Arries, Dondas en Francois Gelderbloem, terwyl Muller, Evan Scholtz, Pieter van Vuuren en Dawid Gelderblom tussen die voorspelers uitgeblink het.
Adias speel môre (Saterdag) teen Swings van Haarlem op die Rec. Die wedstryd begin om 14:30.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'