OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Western Hope-krieketklub het sy SWD T20-krieketliga seisoen verlede Saterdag op 'n hoë noot begin toe hy Bongolethu en Ladismith krieketklubs oortuigend op die Bongolethu-sportgronde verslaan het.
Die wenners van dié liga sal tesame met die wenners van Boland en die Westelike Provinsie in 'n kwalifiserende rondte teen mekaar speel om te bepaal wie die Wes-Kaap by die Multiply Nasionale klubkrieketkampioenskappe gaan verteenwoordig.
Western Hope is in sy eerste wedstryd deur Bongolethu ingestuur om te kolf en 128 lopies in sy toegelate 20 boulbeurte aangeteken.
Die openingskolwer, Welton Verlaat het 'n sprankelende 29 lopies aangeteken wat vier grenshoue ingesluit het.
Bongolethu is toe vir slegs 74 lopies in sy beurt uitgehaal wat aan Western Hope 'n oorwinning van 54 lopies besorg het.
Teen Ladismith was Western Hope ook te sterk en het hulle 'n redelike groot totaal van 136 lopies vir die verlies van 6 paaltjies opgestapel waarvan 55 lopies ook deur Verlaat gemoker is.
Ladismith se kolwers kon net nie aan die gang kom nie en is almal vir 75 lopies uitgeknikker. Western Hope wen dus met 61 lopies.
Verlaat (openingskolwer) het in albei sy kolfbeurte teen Bongolethu en Ladismith veral die oog gevang met sy volle arsenaal houe wat hy met die grootste gemak uitgestal het.
Hy het ook beindruk met sy rotsvaste verdediging. Hierdie speler gaan voortaan beslis nog goud werd wees vir sy span.
Verlaat speel 'n dryfhou deur die dekveld.
Rotsvaste verdedi-gingtegniek.
'Ons bring jou die nuutste Oudshoorn, Klein Karoo nuus'