KRIEKET NUUS - Alle paaie lei Sondag 4 Junie na Seaview Park, Pacaltsdorp (agter Hypersave) wanneer die eindstryd van seisoen 5 van die Vlakkiekrieketreeks plaasvind.
Daar word in drie afdelings meegeding. In die eindstryd speel die Rosedale Tigers teen Parkdene Challengers, in die Shield-eindstryd meet die Pacs Rebels kragte met die Blanco Warriors en in die Plate-eind-stryd is dit die Seaview Kings teen die Strangers 11.
Die spanne het die afgelope naweek in hul onderskeie afdelings deurgedring na die eindronde.
Vlakkiekrieketwedstryde word op dieselfde formaat as T20-wedstryde beslis met goeie kwaliteit tennisballe. Ouderdomme van spelers wissel tussen 15 en 50 jaar.
Sammy Vorster, voor-sitter van die GRSD, (George Rural Sports Development), onder wie se vaandel die wedstryde plaasvind, het Maandag gesê hy wil graag geluk sê aan alle deelnemers. Daar moet 'n wenner en 'n verloorder wees.
Hy het alle spanne en belangstellendes genooi om Sondag te kom kyk. Die eerste wedstryd begin om 09:00 en die tweede om 11:00. Die hoofwedstryd begin om 14:00. Toegang is gratis. Daar sal ook vermaak en verversings vir die kinders wees.
"Dit beloof om die grootste en die beste eindstryd ooit in die geskiedenis van GRSD te wees. Ons vra almal om deel te wees daarvan."
Hy het ook dank uitgespreek vir almal se samewerking en dissipline op die veld die afgelope tyd.
"Ons is reeds in beplanning vir seisoen 6. Enige voorstelle wat spelers, kapteins of voorsitters het moet aan die komiteelede of Luwatlyn Jacobs gegee word vir bespreking."
Seisoen 6 begin op 13 Augustus en inskrywings open reeds op Maandag 5 Junie.
Volgens hom is Vlakkiekrieket baie gewild en dit groei.
Vir enige navrae kontak Vorster by 078 703 1020.
Die Parkdene Challengers
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’