TUINROETE DISTRIK KRIEKETNUUS - Union Stars-krieketklub kon die afgelope naweek in hul eerste ronde krieketwedstryd in die Six Gun Grill SWD Premierliga-kompetisie (50 boulbeurte) daarin slaag om ondanks 'n beskeie totaal van 110 lopies almal uit, sy opponent, Plettenbergbaai Pioneers, ore aan te sit.
Lee Henry Meyer (5/16) en Renaldo Meyer (4/21) het verwoesting met die bal gesaai en Pioneers uiteindelik vir 59 lopies almal in die 23ste boulbeurt uitgehaal.
Union Stars wen dus met 51 lopies.
Nog 'n Oudtshoorn- gebasseerde span, Western Hope - krieketklub, is daarenteen op Pacaltsdorp teen New Dawn Park vir 'n skamele 84 lopies in die 33ste boulbeurt uitgeboender.
Slegs hul kaptein en aanvangskolwer, Reginald (Paco) Anthony kon weerstand met sy 21 lopies bied.
New Dawn Park se kaptein en bouler, Danvor Muller, was 'n doring in die vlees van Western Hope se toporde en het geeindig met 'n boulontleding van drie paaltjies vir 13 lopies in agt boulbeurte.
Die tuisspan het Western Hope se teiken so vroeg as die 25ste boulbeurt verbygesteek met die verlies van slegs drie paaltjies. New Dawn Park wen dus met sewe paaltjies.
Reginald (Paco) Anthony speel 'n kaphou.
Lee-Henry Meyer het 5 paaltjies vir 16 lopies laat kantel. Foto verskaf
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'