OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Die plaaslike krieketster, Michaela Andrews, is verlede Woensdagaand by die Bridgton-sportterrein se onthaalsaal as die Union Stars-krieketklub se 2020-speler aangewys. Andrews het in die SWD-krieketligaseisoen 20 paaltjies platgetrek en 245 lopies gemoker.
Klubvoorsitter, Michelle Weyers, het die spelers met nog 'n goeie jaar gelukgewens.
Weyers het beklemtoon dat die klub se naam 'n landswye handelsmerk is en dus as sulks, met trots, bemark moet word.
"As voorsitter strewe ek nie net daarna om trofeë te wen nie, maar ook om spelers op 'n sosio-ekonomiese vlak te help. Ons moet nie net rolmodelle vir ons gemeenskap wees wanneer ons wen nie, maar ook rolmodelle weg van die veld," het sy gesê. Sy het haar dank teenoor SWD-krieket en alle rolspelers binne die klub uitgespreek en gesê hoewel die klub hoop om 'n groot borgskap te bewerkstellig, Verso en Marlo Saptou Vervoer se bydrae vanjaar uiters waardevol was.
Union Stars se seisoen:
- Union Stars het die reserwe- en vroueliga suksesvol verdedig.
- Die klub is een van slegs 20 krieketklubs landwyd wat "blouvlagstatus" van Krieket Suid-Afrika ontvang het. Hierdie erkenning word alleenlik toegeken aan klubs wat die doelstellings van die presidensiële plan gedryf het. Dit sluit in administratiewe vermoëns, voldoende fasiliteite, 'n minimum aantal spanne en kwaliteit van afrigters in. Die kwalifiserende klubs mag die prestige CSA-blouvlaglogo op die mou van hul hemde dra en het ook 'n KSA-plaatjie van erkenning ontvang.
- Elridge Booysen ontvang sy nasionale Vlak 3-afrigtersertifikaat.
- Jhedli van Briesies is in die Cobra Cubs-span ingesluit terwyl Tyrece Karelse in die SA o.19-groep opgeneem is.
- Haroline Rhodes ontvang die SA Magte, spelerstoekenning van die jaar.
- Michaela Andrews en Janè Winster is beide by KSA se vroue-T20-ligas ingesluit.
- Michaela Andrews en Tshepo Ndwandwa het ook albei die SWD-toekenning vir speler van die jaar ingepalm.
Spelers wat Woensdagaand vereer is:
- Michaela Andrews - Speler van die seisoen
- Chris Andries - Beste administrateur
- Enverino Swartz - Beste T20 bouler
- Pieter Stuurman - Beste T20 kolwer asook Beste A-span kolwer
- Keagan Arries - Beste C-span kolwer
- Eldridge Booysen - Beste B-span kolwer
Pieter Stuurman
Chris Andries
Enverino Swartz
Keagan Arries
Elridge Booysen
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'