KRIEKETNUUS - Union Stars I en Union Stars II, beide spanne van Oudtshoorn se grootste krieketklub Union Stars, het die afgelope naweek mekaar die stryd aangesê in die SWD T20-halfeindstryd by die Oudtshoorn-sportterrein.
In 'n titaniese stryd kon Union Stars 1 die wa deur die drif trek met slegs sewe lopies die verskil tussen wen en verloor.
Die ander halfeindstryd tussen Pacaltsdorp en Knysna Kavaliers was op dieselfde veld geskeduleer, maar moes beide wedstryde geherskeduleer word na die volgende dag (Sondag) weens swaar reënbuie wat uitgesak het.
Hier was dit Pacaltsdorp wat korte mette met die Kavaliers gemaak het deur hulle met 'n oortuigende 54 lopies te wen, dus pak Union Stars 1 en Pacaltsdorp mekaar eerskomende naweek by die Oudtshoorn-sportterrein in die eindstryd.
Union Stars 1 vs Union Stars 2
In die eerste wedstryd Sondag, met baie beter, droër weerstoestande, het Union Stars 1 eerste gekolf en 'n skaflike telling van 141 lopies vir die verlies van agt paaltjies aangeteken.
Keely Smuts was die groot held met 54 lopies met Grant Esau wat ook 'n waardevolle 42 onoorwonne lopies aangeteken het.
Vir Unions Stars 2 het Shannon Opperman met die bal uitgeblink en vier paaltjies platgetrek vir slegs 23 lopies. Opperman is goed bygestaan deur die veelsydige spelers Tyrese Karelse en Everino Swartz het elk twee paaltjies ingeoes het.
Union Stars 2 se lopiejaagtog het belowend begin met Jean Heunis se flitsende kolf wat verantwoordelik was vir 48 lopies.
Herschelle America het ontslae geraak van Heunis waarna Union Stars se aanslag effektief ook tot 'n einde gebring is. America het met boulsyfers van 3/24 geëindig en is briljant ondersteun deur Eldridge Booysen se selfs beter boulontleding van drie paaltjies met slegs 10 lopies afgestaan.
Union Stars is uiteindelik vir 134 lopies uitgehaal en wen dus met sewe lopies.
Herschelle America se snelballe was deurslaggewend vir 'n oorwinning vir Union Stars 1.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’