OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - "Dis 'n absolute voorreg en 'n tree nader aan my droom om eendag vir die Proteas te speel."
So het Marcello Piedt, plaaslike krieketspeler, gesê oor sy onlangse insluiting in die Multiply Titans-span.
Die voormalige Protea-paaltjie-wagter, Mark Boucher, rig tans die Titans af. Piedt, wat homself as 'n snelbouler beskryf, maar ook kan kolf, het sy debuut vir die SWD in 2012 gemaak en het hom oor die jare as 'n staatmaker in dié span gevestig. "Alhoewel ek vir die Titans gekies is vir slegs die twee oorblywende Momentum One Day Cup-wedstryde, besef ek maar terdeë dat hierdie 'n groot oomblik in my loopbaan is.
"As ek goed vaar, soos ek weet ek kan, sal dit definitief my kanse versterk om 'n kontrak by dié prestige unie los te slaan."
Volgens Albertus Kennedy, SWD se hoof- uitvoerende beampte, is die SWD dankbaar dat talentvolle spelers van die streek deur ander provinsiale unies raakgesien word.
"Marcello het al die talent in die wêreld, en sou die Titans hom 'n kontrak aanbied sal dit natuurlik 'n groot leemte in ons span laat, maar terselfdertyd is ons opgewonde om te sien hoe hy in 'n span gelaai met Protea-spelers sal vaar, het Kennedy gesê.
Piedt sal skouers skuur in die Titans-span met Protea-spelers soos Chris Morris, Junior Dala, Farhaan Behardien, Dean Elgar, Heino Khun en Heinrich Klaassen. Die Titans is tans met 28 punte voor op die Momentum One Day Cup punteleer, en het gister (Donderdag) teen die Lion in Johannesburg gespeel en eindig hul laaste wedstryd Saterdag (môre) teen die VKB Knights in Bloemfontein waarna die uitspeelwedstryde van dié reeks sal begin.
Voormalige SWD spelers soos Gurshwin Rabie, Otneill Baartman and Glenton Stuurman is ook van die plaaslike spelers wat reeds hul merk op provinsiale vlak gemaak het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'