Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Titans-vlakkiekrieketspan het verlede Saterdag op die oop stuk grond in Dassieweg 'n gekombineerde span van Worcester in 'n T20-wedstryd met 32 lopies geklop.
Die Titans is 'n dorpspan wat belowende spelers kies uit Oudtshoorn se verskillende vlakkiekrieketspanne.
FOTOGALERY: Oudtshoorn Titans-Vlakkiekrieketspan skitter
Die tuisspan het die loot gewen en besluit en om eerste te kolf. Hul aanvangspaar, Ricardo 'Kallah' Petersen (25) en Lee-Naldo Pietersen (21), het die Titans vroeg op die voorvoet geplaas met 'n stewige vennootskap van 46 lopies in agt boulbeurte.
Die Titans se kaptein, Cameron Rhoode, is egter kort daarna uitgehardloop sonder om lopies aan te teken. Hierdie terugslag het egter nie tuisspan van stryk af gebring nie met die jong opwindende kolwer, Tyrese Karelse (voormalige o.19 Proteaspeler), wat 'n warrelwind 50-tal gemoker het.
Jermaine LeKay het Karelse goed onder-steun met 'n topklas-beurt van 46 lopies wat ses monstersesse ingesluit het. Die res van die kolforde het uiteindelik die volledige kwota boulbeurte uitgekolf om 'n stywe teiken van 146 lopies op die telbord te plaas.
Dit het beteken dat Worcester van meet af aan teen sewe lopies per boulbeurt moes kolf. Die Titans se twee spoedvraat-boulers, Juan 'Mr. 160' Murphy en Jean Campher, was egter in 'n omgesukkelde bui en het met reëlmaat die paaltjies laat kantel. Veral Murphy, wat sekerlik Oudtshoorn se vinnigste bouler in die plaaslike vlakkiekrieketligas (BBL en OPL) is, se vuurpylaflewerings was een te veel vir die besoekers.Tyrese Karelse het 'n warrelwind 50-tal gemoker.
Worcester sou vir minder as 70 lopies uitgeboul gewees het was dit nie vir 'n laat aanslag van die besoekers se Mario Marinus (70) nie. Dit het uiteindelik 'n pragaflewering van die einste Murphy geneem om van hom ontslae te raak. Die besoekers is uiteindelik vir 114 lopies in die voorlaaste boulbeurt uitgehaal; 'n telling wat die besoekers sal vlei.
Die plaaslike Hungry Lions-span het in die laaste wedstryd van die dag met ses paaltjies teen Worcester Clovers vasgeval. Lions het eerste gekolf en kon slegs 84 lopies in hul toegelate 20 boulbeurte vermag. Clovers het die wenteiken met aanskoulike houespel reeds in die 10de boulbeurt verbygesteek met ses paaltjies staande.
Die Lions is tans die BBL Somerliga, Top-8 en Munisipale Paasnaweekkampioen en het 'n maand gelede ook op eie bodem, Robertson Sunrisers, geklop.
Tussendeur die opwindende krieket is daar heerlik pot gemaak, gebraai en sosiaal verkeer. Op die einde van die dag is waardevolle vriendskappe gesmee met krieket die groot oorwinnaar.
Die sportdag is deur Sport Buddy en Hungry Lions georganiseer.
Juan 'Mr. 160' Murphy se vuurpylaflewerings was een te veel vir die besoekers. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'