OUDTSHOORN SPORTNUUS - Charlie Terblanche, van Laerskool Wesbank, en 'n lid van Dill-Bills Cricket Academy, is onlangs opgeneem in die SWD o.13-streekspan wat van 13 tot 15 Desember in Oudtshoorn in die streektoernooi gaan meeding.
Terblanche is reeds drie jaar lank 'n lid van dié akademie en is ook die eerste speler van die akademie wat vir 'n SWD-span gekies word.
Volgens Dillan Moos, stigterslid van Dill-Bills Cricket Academy, bars hy van trots en is dit 'n groot eer vir sy akademie om 'n SWD-speler op te lewer.
"Charlie was van ons eerste spelers toe ons in 2019 die akademie se deure oopmaak en een aspek van hom wat altyd uitgestaan het, was sy werketiek en passie vir die spel. Hy is 'n ongelooflike veelsydige speler en ons wens is dat hy selfs nog hoër hoogtes sal bereik," het Moos gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'