OUDTSHOORN SPORTNUUS - Die skote klap tans in die Big Bash (BBL)- vlakkiekriekettoernooi met die Pro Stars-span wat Sondag die Spartans met kliniese spel op Mandelapark oorrompel het. Die Spartans het die loot gewen en tot hul spyt, die Pro Stars eerste ingestuur om te kolf.
Die Pro Stars het aanvanklik twee vinnige paaltjies verloor met slegs twee lopies op die telbord.
'n Briljante 64 lopie vennootskap tussen Cristiano 'Big Bash' Esterhuizen en Gavin 'Aswad' Pietersen het egter die grondslag gelê sodat die Pro Stars uiteindelik 'n bogemiddelde 106 lopies in sy toegelate 20 boulbeurte op 'n moeilike blad aangeteken het.
Alhoewel 'Big Bash' 'n paar lewens deur die Spartans gegee is, het hy die manne in rooi genadeloos tot elke uithoek van die veld gepeper vir enige los balle wat geboul is.
Hy is uiteindelik vir 84 lopies op die grens uitgevang, maar teen daardie tyd was die koeël reeds deur die kerk.
In die Spartans se kolfbeurt was dit eenrigtingverkeer met die einste 'Big Bash' wat hierdie keer as bouler, die hart uit die Spartans se toporde geskeur het en vyf paaltjies vir 15 lopies in sy toegelate vier boulbeurte laat kantel het. Esterhuizen is vir sy waardevolle veelsydige vertoning ook welverdiend as speler van die wedstryd aangewys.
Die Spartans is uiteindelik vir 78 lopies in die 18de boulbeurt uitgehaal wat 'n oorwinning van 28 lopies aan die Pro Stars besorg het.
Kwarteindstryde vir die naweek
- Hungry Lions vs Neppon Warriors
- Firestones vs Team Players
- Spartans vs Dream Team
- Tornados vs Pro Stars
Cristiano 'Big Bash' Esterhuizen het die Spartans genadeloos tot elke uithoek van die veld gepeper vir enige los balle wat geboul is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'