OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Die voorbereiding van vanjaar se OPL-vlakkiekriekettoernooi wat amptelik oor twee weke begin, verloop seepglad.
Verlede Sondag se Pro-10-wedstryde is deur Teamplayers, Neppon Warriors, Legends, Firestones, Spartans, Knights, RCB, Laeveld Stars, Champs, Rose Stars, Old Crocks, Ou Kas Stars, en die Dream Team gespeel.
Volgens Marco Donson, voorsitter van die OPL-bestuur, kon 'n mens die honger in die spelers se benadering sien. "Vir hulle het dit nie gegaan oor vriendskaplike wedstryde nie. Die manne wou speel om te wen. Ons verwag ten minste 16 spanne in die OPL vanjaar - 'n bewys dat dié liga groei. Dit is ook opmerklik dat die spanne alle gebiede in Oudtshoorn verteenwoordig. Groot aanspraakmakers op vanjaar se OPL-titels is in my opinie Legends, Neppon Warriors, Firestones, Hungry Lions, Teamplayers en Spartans. Namens die bestuur wil ek 'n versoek aan die gemeenskap rig om ons jongelinge te ondersteun, want sport hou jongmense van die strate af. Daai negatiewe energie kan in iets positief omgeskakel word met die regte leiding."
Verlede Sondag se eindstryd tussen Hungry Lions en Spartans kon weens swak lig nie voltooi word nie. Die kaptein van die Spartans het toegegee dat sy span in elk geval nie in normale weersomstandighede die vereiste lopietempo sou kon baasraak nie, wat beteken het dat Hungry Lions met die louere weggestap het.
Die OPL-ranglys vir 2021 is as volg:
- Firestones
- Legends
- Warriors
- Dreamteam
- RCB
- Hungry Lions
- Spartans
- Spoilers
Renaldo Scholtz van die Champs maak gereed om die bal maan toe te moker.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'