OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Die lang, ongeduldige wag vir Oudtshoorn om sy eerste nasionale krieketspeler op te lewer, het verlede Saterdag op 'n einde geloop toe Glenton Stuurman verlede Saterdag vir die Protea T20-span gekies is en uiteindelik op die veld verteenwoordig het.
Die Warriors se snelbouler en voormalige speler van SWD moes reeds verlede jaar al sy buiging vir die Proteas se toetsspan teen Engeland gemaak het, maar moes toe weens 'n ontydige besering, noodgedwonge onttrek.
In Saterdag se wedstryd in Pakistan het die Protea T20-kaptein, Heinrich Klaassen, twee boulbeurte aan Stuurman toevertrou waarin hy 28 lopies met geen paaltjies afgestaan het - dus 'n gemiddelde van 14 lopies per boulbeurt. In algemene krieketterme was sy boulsyfers dus 'n bietjie aan die duur kant, maar gelukkig besef ware krieketliefhebbers dat T20-krieket ontwerp is vir hoë-oktaan wedstryde waar die lopies soos die Meiringspoort-waterval vloei na goeie reëns.
Om in jou debuutwedstryd vir jou land aan die ontvangkant van Pakistan se vormspelers soos Mohammad Rizwan en Faheem Ashraf te wees, kon met enige bouler gebeur omdat dié duo ook in die voorafgaande T20-wedstryd en toetsreeks, konstant verwoesting met die wilgerlat gesaai het.
Mens moet ook onthou dat Stuurman aanvanklik vir die toetsspan gekies is - die ware barometer vir enige bouler se vaardigheid en balbeheer.
Dus sal sy waarde eers dan geweeg en geoordeel word. Tot dan is dit enige Karookind se volste reg om breëbors rond te stap en te verkondig; Oudtshoorn se eerste Protea-speler is hier!
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'