GARDEN ROUTE CRICKET NEWS - SWD-krieket se planne om sy tuiste in George te vestig, het nuwe stukrag gekry. 'n Multi-dissiplinêre taakspan is tussen SWD-krieket en die George-stadsraad in plek gestel om die aangeleentheid te ondersoek en 'n aanbeveling aan die stadsraad te maak.
Eerste aanduidings dat iets weer aan die gebeur is, het verlede Woensdag, 11 Augustus, gekom toe 'n afvaardiging van Krieket Suid-Afrika, SWD-krieket en verteenwoordigers van die stadsraad en die munisipaliteit in George ontmoet het.
Die vergadering is deur onder meer Graeme Smith, die voormalige Protea-kaptein en Leon van Wyk, George-burgemeester bygewoon. Smith is deesdae die direkteur van Krieket by KSA.
SWD-krieket het reeds in 2004 voltydse kantore in Oudtshoorn betrek en oor die jare het verskeie groot krieketwedstryde daar plaasgevind. Baie van die wedstryde is lewend op televisie uitgesaai.
Onlangs is 'n gunstige langtermyn huur-ooreenkoms weer met die Oudtshoorn-munisipaliteit beding. SWD-krieket het wel in Maart 2019 besluit om met 'n proses van verskuiwing van Oudtshoorn na George te begin. Die eerste formele aanbieding is in Desember 2019 aan die George-burgemeestersbeplanningskomitee in die verband gedoen. Die Covid-19-pandemie was egter by meer as een geleentheid 'n stok in die wiel.
Albertus Kennedy, hoof- uitvoerende beampte van SWD-krieket, het Dinsdag by navraag gesê hy kan nie die proses vooruitloop nie. "Ons sal nou moet wag en sien wat gebeur."
Volgens hom is een van SWD-krieket se strategiese doelwitte om ekonomiese en kommersiële vooruitgang op die langtermyn volhoubaar te vestig.
"Ons het besef 'n verskuiwing in die verband moet oorweeg word. Die voordele van George as 'n ekonomiese groeipunt in die Wes-Kaap en as potensiële metro is voor die hand liggend."
George-burgemeester Leon van Wyk, het gesê dat George graag SWD-krieket hier wil hê. Voorts dat SWD 'n sterk span sal hê wat nasionaal op die hoogste vlak sal kan meeding.
Die taakspan sal sy werk doen en kyk of dit moontlik is om SWD te kan akkommodeer.
Die gesprekke is aan die gang.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'