OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Bridgton Senior Sekondêr het onlangs voordeel getrek uit 'n projek van Bridgton Regional Performance Centre (RPC) toe die krieketnette by die skool opgegradeer is.
Die finansiering van die projek is deur Krieket Suid-Afrika (KSA) aan die SWD Krieketontwikkelingsprogram toegeken.
KSA het die RPC en Hub-program meer as ses jaar gelede regoor die land begin met een RPC (Bridgton) en drie hubs (Thembalethu, Rosemoor en D'Almeida) wat aan SWD toegeken is.
Dié RPC's en Hubs is in minderbevoorregte gemeenskappe gebaseer en poog om jong krieketspelers uit hierdie gemeenskappe toegang te gee tot hierdie fasiliteite wat andersins nie die geleentheid sou gehad het om die spel te leer nie. Hierdie kriteria spreek direk tot die eerste van die twee belangrikste elemente van KSA se visie: "Om te verseker dat krieket deur die meerderheid Suid-Afrikaners ondersteun word en beskikbaar is vir almal wat dit wil speel."
Elke RPC en Hub word fyn dopgehou deur SWD en KSA om te verseker dat elke jaar sekere teikens bereik word.
Dit word gedoen deur middel van die aansporingskaart en aspekte soos die aantal wedstryde wat gespeel word, wen/verloor-ratios, spelers wat gekies word as verteenwoordiger asook kwalifikasies vir afrigters en begroting.
Elke hub-span speel in een van die SWD Jeugligas en neem ook deel aan vriendskaplike wedstryde om die spelers meer as 20 volledige wedstryde per jaar te gee.
Die Bridgton RPC is gebaseer in Oudtshoorn en het die volgende plaaslike skole wat deel is van die program:
Hoërskole
- Bridgton Senior Sekondêr
- Môrester Sekondêr
- Fezekile Sekondêr
- Aurial College
- Hoërskool Protea
Laerskole
- Laerskool Bergsig
- Laerskool Colridge
- Laerskool Sacred Heart
- Laerskool De Villiers
- Laerskool Saturnus
- Laerskool Bongolethu
Tyrece Karelse van Hoërskool Protea wat die SA o.19-span in 2020 verteenwoordig het, is 'n ook produk van die RPC-program.
Volgens Envirino Swartz, opvoerder by BSS, het al die skool se ouderdomsgroepe krieketspanne vanaf 2016 tot 2020 nog elke jaar ten minste in die halfeindrondes van toernooie gespeel en topskole geklop. Swartz het ook sy dank teenoor die SWD afrigters Elridge Booysen (hoofafrigter), Merlin Masimela en Anver Venter uitgespreek.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'