OUDTSHOORN - Daar is tans geen keer aan Ottneil Baartman, bekende krieketuitvoerproduk van Oudtshoorn en SWD-krieket nie. Baartman is Maandagaand, 22 Januarie, tydens 'n Betway SA 20-wedstryd teen die Pretoria Capitals in Gqeberha aangewys as speler van die wedstryd en het in die proses R10 000 in sy sak gesteek.
Sy prestasie volg op verlede week se suinige boulwerk toe hy 15 lopies in die doodsnikke van die wedstryd teen MI Cape Town verdedig het vir 'n dramatiese oorwinning vir sy span.
In Maandagaand se wedstryd teen die Capitals het Baartman vier paaltjies vir 'n skamele 12 lopies in slegs 3,3 boulbeurte laat kantel.
Hy is goed ondersteun deur die Australiër Daniel Worrall (3/22), Marco Jansen (2/11) en Patrick Kruger wat een paaltjie vir vyf lopies in drie boulbeurte afgestaan het.
In hierdie wedstryd het Sunrisers die loot gewen en besluit om Capitals in te stuur om te kolf, 'n besluit wat onmiddellik vrugte afgewerp het toe Worrall en Jansen die toporde aan flarde geskeur het met twee paaltjies elk binne die eerste vier boulbeurte.
Op 'n kolfblad wat swaaiboulwerk bevoordeel het, het Capitals 'n fatale fout begaan om nie anker aan wal te gooi met hul aanvallende benadering nie en het hulle 'n duur prys daarvoor betaal.
Geen kolwer van Capitals was bereid om te konsolideer en ten minste die 20 toegelate boulbeurte uit te kolf nie wat so reg in Baartman se guns getel het.
Baartman het die gevaarlike Colin Ingram skoongeboul voordat hy ontslae geraak het van Capitals se kaptein en Protea-veelsydige speler, Wayne Parnell en Senuran Methusamy. Sy laaste slagoffer was Eathan Bosch wie se paaltjie ook in die lug getuimel het.
Capitals het geëindig met 52 lopies in 13,3 boulbeurte; die swakste nog in die geskiedenis op die spesifieke veld in 'n T20-wedstyd vir enige span, amateur, nasionaal of internasionaal.
In Capitals se kolfbeurt het Parnell vroeg die Engelse kolwer, Dawid Malan se paaltjie goedkoop ingepalm toe hy hom misgis het met 'n bal wat stadiger na hom toe gekom het as wat hy voorspel het en die bal reguit in die hande van Methusamy geslaan het.
Na hierdie paaltjie was dit eenrigtingverkeer vir Capitals se boulers wat lusteloos voorgekom het in skrille kontras met Sunrisers se boulers wat met elke bal gif gespoeg het op dieselfde kolfblad.
Dit was veral Tom Abell wat Capitals se boulers na elke uithoek van die veld gekasty het vir 'n onoorwonne 31 lopies van slegs 22 balle. Sy beurt het vier grenshoue en een ses ingesluit.
Ewe indrukwekkend was die jonge Jordan Hermann, wat soos verlede week, weereens deeglik sy kant gebring het met die kolf; die keer met 'n onoorwonne 20 lopies van 17 balle.
Sunrisers het Capitals se teiken van 53 lopies in die sesde boulbeurt, net na die verpligte kragspel, afgeblits met al hul grofgeskut nog in die kleedkamer.
Dié oortuigende oorwinning het ook Sunrisers se algehele lopietempo 'n gesonde hupstoot gegee en lê hulle nou tweede op die punteleer (15 punte van vyf wedstryde). Paarl Royals beklee die topposisie tans met 18 punte na vyf wedstryde.
Sunrisers se volgende wedstryd is vandag (Donderdag 25 Januarie) weer teen Capitals in Pretoria.
Sunrisers se kaptein, die Protea Eendaagse-kaptein, Aiden Markram, het na die wedstryd Baartman uitgesonder vir sy briljante boulwerk.
"Ons boulwerk het definitief die fondasie gelê vir hierdie oorwinning en ons is in ons noppies omdat die span ook 'n waardevolle bonuspunt ingepalm het. Baartman is 'n kwaliteitspeler en ons almal weet tot waartoe hy in staat is. Vandag het hy dit soos verlede week, net weereens getoon. Ons doelwit is om hierdie momentum vol te hou en om uiteindelik 'n plek in die uitspeelwedstryde te behaal."
Op 'n vraag aan Baartman tydens die prysoorhandiging of hy dink lyn of lengte op die kolfblad het 'n bepalende rol gespeel, het hy geantwoord dat dit 'n kombinasie van beide was.
"Kyk, hierdie blad was 'n tipiese toetsblad wat hulp verleen het aan die swaaiboulers, maar dit bygesê, moet jy steeds die paaltjies konstant aanval om die bal 'n kans te gee om die praatwerk te doen. Met elke wedstryd is ons benadering verskillend en vanaand het Jansen en Morall die fondasie gelê vanwaar ons die uitklophou kon plant," het Baartman gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’