OUDTSHOORN NUUS - Hungry Lions-vlakkiekrieketspan het Oudtshoorn se naam Sondag hooggehou toe hulle die besoekende Robertson Sunrisers in 'n taai stryd met ses paaltjies in Die Kuil (veld agter Toekomsrus-kliniek) in 'n T20-wedstryd geklop het.
Die wedstryd is regstreeks deur EDENfm uitgesaai en deur die liefdadigheidsorganisasie, Sport Buddy Charity, aangebied.
Hungry Lions is tans ook die huidige Oudtshoorn Big Bash liga-kampioene, Top-8 sowel as die munisipale Paasnaweek-kampioene.
Daarenteen is Robertson Sunrisers ook hulle eie dorp se vlakkiekrieket-ligakampioene.
Sunrisers, wat met Ferisco Adams, voormalige Paarl Rocks en Cape Cobras-speler in sy geledere spog, het die loot gewen en besluit om eerste te kolf waarna hulle 'n mededingende teiken van 117 lopies in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken het.
Dit het beteken dat die tuisspan van meet af aan teen 'n uitdagende kolftempo van bykans ses lopies per boulbeurt moes aanteken.
Dit was veral Ricardo 'Kallah' Peterson van die Lions wat die besoekers hoofbrekens besorg het.
Die Lions se lopiejaagtog het wankelrig begin met twee vinnige paaltjies van Cameron Rhoode (kaptein) en Jean Campher wat binne die eerste vyf boulbeurte vir relatief goedkoop gekantel het.
Die twee nuwe kolwers, Marco Jansen en Ricardo 'Kallah' Peterson, het toe die skip na kalmer waters gestuur met 'n stewige vennootskap van 40 lopies om die derde paaltjie.
Dit was veral Peterson van die Lions wat die besoekers hoofbrekens besorg het met sy aggressiewe houespel.
Juan 'Jantos' Murphy was 'n handvol met sy blitsige aflewerings. BO: Die wedstryd is deur Sport Buddy Charity aangebied en regstreeks deur EDENfm uitgesaai.
Jansen is vir 14 lopies uitgevang terwyl Peterson voortgegaan het om Sunrisers se boulers na alle uithoeke van die veld te kasty.
Sy wedstrydbepalende onoorwonne 50-tal het vier sesse en drie viere van 36 balle ingesluit.
Peterson se kolfvennoot om die vyfde paaltjies, Keagan Koeries (16*), het 'n goeie ondersteunende rol gespeel wat verseker het dat die Lions die stywe teiken van 117 in die 18de boulbeurt verbysteek.
In die voorwedstryd het Sunrisers die Oudtshoorn Titans met 88 lopies geklop.
Die wedstryd was deur Sport Buddy Charity aangebied en regstreeks deur EDENfm uitgesaai. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'