OUDTSHOORN KRIEKET NUUS - Twee van die Oudtshoorn Premierliga vlakkiekrieket-ontwikkelingstoernooi (OPL) se gedugste spanne, die Legends en Firestones, het verlede Sondag een van die opwindendste wedstryde tot dusver in dié liga gespeel.
Wedstryde is op die oop stuk veld langs die Bridgton-kliniek beslis.
Die Legends kon in sy toegelate 20 boulbeurte daarin slaag om 116 lopies vir die verlies van nege paaltjies aan te teken. Vir die Legends het Juwandrè Tarentaal (38 lopies) die beste met die kolf gevaar.
Damion Esau, veteraanbouler van die Firestones, het met die bal uitgeblink, en vier paaltjies vir 21 lopies in sy toegelate vier boulbeurte platgetrek.
Die Firestones het tydens sy kolfbeurt met reëlmaat paaltjies verloor, en dit was slegs Jadrian Plaatjies met sy vegtende 40 lopies, wat enigsins weerstand gebied het.
As gevolg van suinige boulwerk deur die Legends se Neil Hendricks moes die Firestones uiteindelik met 90 lopies in sy 20 boulbeurte tevrede wees.
Hendricks is ook welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys. Volgens die OPL se koördineerder, Gavin Pietersen, sal die eindstryd op die 21 November plaasvind indien goeie weerstoestande dit toelaat.
Die wenner van die OPL-toernooi sal ook vanjaar outomaties as die OPL se TOP8-kampioen aangewys word.
Ander uitslae:
- Neppon Warriors teen Hungry Lions
- Hungry Lions wen die wedstryd met 41 lopies.
- Teamplayers teen Prostars
- Teamplayers wen met 41 lopies.
- Spartans teen Spoilers
- Spartans met 23 lopies.
- Dreamteam vs RCB
- Dreamteam wen met twee paaltjies.
- Oukas Flights teen Moon Boys
- Oukas wen met drie lopies.
Die Legends se Juwandrè Tarentaal (38 lopies) het die beste met die kolf gevaar.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'