OUDTSHOORN - Ladismith-krieketklub het verlede Saterdag geskiedenis gemaak nadat hulle hul eerste trofee in 27 jaar gewen het toe hulle as die Six Gun Grill SWD Krieket Reserwe liga-afdeling een kampioene vir die 2023/24 seisoen gekroon is. Hierdie wedstryd is oor 50 boulbeurte beslis.
Die manne van Ladismith (169/5) het Blanco (167 almal uit) met vyf paaltjies verslaan in die eindstryd wat by Langenhoven Gimnasium gespeel is. Die oud-SWD-speler, Erinn Ewerts was Ladismith se held en het met 'n puik veelsydige vertoning uitgeblink.
Met die kolf het hy 59 lopies gemoker terwyl hy met die bal 'n indrukwekkende vier paaltjies laat kantel het.
Blanco het eerste gekolf en is vir 167 lopies almal uit in die 35ste boulbeurt. Vir Blanco het Jeanique Williams (51) en Granville Coeries (39) met die kolf uitgeblink.
Vir Ladismith het Ewerts, Joshua Julies (3/24) en Ronald Adams (2/38) die beste met die bal gevaar.
In Ladismith se lopiejaagtog het die manne van Kannaland die teiken reeds in die 37ste boulbeurt behaal met vyf paaltjies nog staande. Behalwe vir Ewerts het Denver Breda met 57 lopies ook 'n stewige bydrae met die wilgerlat gelewer. Vir die besoekers was dit slegs Alain Jansen 2/12 en Kenneth Syster 2/34) wat enigsins hond haaraf kon maak met die bal.
Ladismith wen hierdie wedstryd met vyf paaltjies.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’