OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Wes-Kaap-krieket (EDMS) Bpk, die beheermaatskappy van die Cape Cobras-franchise, het Albertus Kennedy verlede week as hul nuwe interim hoof- uitvoerende beampte aangestel.
Kennedy is reeds meer as 15 jaar aan die stuur van SWD-krieket en sal voortaan 'n gesamentlike verantwoordelikheid tussen die franchise en die SWD-tak behou.
Tydens 'n telefoniese onderhoud met die Oudtshoorn Courant het Kennedy gesê dat hy dankbaar is vir die steun van die SWD-direksie om hierdie nuwe en opwindende uitdaging aan te pak.
"Een van my onmiddellike doelwitte is om radikale kommersiële groei te bevorder ten einde ankerborge se betrokkenheid by Wes-Kaap-krieket te verseker. Gesonde korporatiewe bestuur lei dikwels tot positiewe resultate op die krieketveld wat die trofeëkas vol hou en in die proses toekomstige Protea-spelers oplewer. Transformasie op alle vlakke in lyn met Wes-Kaap-krieket se beleid is ook hoog op my prioriteitslys sodat voorheen benadeelde uitsonderlike talent, ten volle ontgin kan word," het hy gesê.
Advokaat Nic Kock, Wes-Kaap-krieket se voorsitter, het bevestig dat Kennedy die volle steun van die Wes-Kaapse krieketraad sal hê.
"Kennedy het SWD-krieket en Wes-Kaap-krieket deur die jare met onderskeiding gedien en ons is verheug om hom in die rol van die uitvoerende hoof van die tussentydse franchise aan te stel. Ons vertrou dat sy aanstelling die nodige stabiliteit in leierskap sal bied wat gedurende hierdie ongekende tyd vereis word."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'