OUDTSHOORN NUUS - Die Kellerprinz-span het Sondag die 2017/2018 Top 8-vlakkiekrieket toernooi gewen toe hy Hungry Lions in die eindstryd met 81 lopies geklop het.
Kellerprinz het eerste gekolf en 143 lopies aangeteken, waarna Hungry Lions se top kolwers klei getrap het teen die boulwerk van hul opponente en vir net 53 lopies uitgeboul is.
John Stefaans en Greg Matroos, albei van Kellerprinz, is onderskeidelik as beste bouler en kolwer van die toernooi aangewys.
'n Groot aantal toeskouers het die finaal en hoogtepunt van die gewilde toernooi op die stuk grond oorkant die ou Alpha Teater in Springbokweg, Bridgton, bygewoon.
Kellerprinz het die Neppon Warriors in hul halfeindstryd geklop en Hungry Lions die Aussies.
Die vier ander spanne wat na die Top 8 deurgedring het is die Truckfits, Underdogs, Extremes en Zulu.
Die toernooi is deur die Oudtshoorn-munisipaliteit en die plaaslike takke van die departemente maatskaplike ontwikkeling en kultuursake en sport georganiseer.
Die toernooi is geborg deur die Biljohn-familie, Reggie Dyssel, adv Benito Metembo, Pastoor Lionel Venter, Kannaland Kekkel en Kraai, Audio Brooks en Lee Barnard.
Lya Goliath, kaptein van Kellerprinz (middel) ontvang die wennerstrofee van Carlos Biljohn. Links is rdl Hendrik Ruiters.
ARTIKEL & FOTO'S: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'