OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Langenhoven Gimnasium se voormalige krieketsensasie, Jhedli van Briesies (18), het onlangs 'n jaar kontrak by die senior SWD-krieketspan gesluit.
Dié aanbod en sy aanvaarding daarvan is egter nie 'n verrassing vir plaaslike krieketliefhebbers nie omdat hierdie jong knaap reeds vir jare vir groot dinge in krieket geoormerk is.
Van Briesies, wat verlede jaar gematrikuleer het, is oorspronklik van Mosselbaai en is in 2015 gedurende 'n SWD- krieketproewe deur een van Langenhoven Gimnasium se keurders raakgesien waarna hy oorreed is om dié kusdorp vir Oudtshoorn te verruil.
Met die intrapslag het hierdie besluit vrugte afgewerp toe Van Briesies in 2016 as kaptein vir die SWD o.15 gekies is. Gedurende sy hoërskoolloopbaan spog Van Briesies (toporde kolwer en paaltjiewagter) met 'n formidabele lopierekord van 10 vyftig - en drie honderdtalle.
"Krieket is 'n sportsoort wat natuurlik vir my is en ek is dankbaar vir die gawe wat ek gekry het. Wie sou nou kon dink dat ek 'n leerder by 'n topskool soos Langenhoven Gimnasium sou wees en boonop in Songoud-koshuis sou woon - gratis as gevolg van my kriekettalent," sê Van Briesies.
In gr. 11 het een van Oudtshoorn se toonaangewende krieketklubs, Union Stars, hom genader om by dié klub aan te sluit. So groot was Union Stars se vertroue in die jongeling dat hulle tydens verlede jaar se SWD Premierliga finale op die REC teen George-krieketklub besluit het om Van Briesies op die belangrike nr. 3-kolf posisie in te span. Union Stars moes ongelukkig in dié wedstryd die knie teen George-krieketklub buig, maar die ervaring wat Van Briesies in hierdie wedstryd opgedoen het, kan geld nie koop nie.
Jhedli van Briesies.
Volgens van Briesies beoog hy om Junie deeltyds onderwys deur Unisa te studeer terwyl hy sy kontraktuele verpligtinge met SWD nakom.
"As ek konstant die lopies laat vloei, glo ek, dat 'n franchise soos die Cape Cobras my eendag sal raaksien. Van daar af is enige iets moontlik - selfs Protea-kleure."
Van Briesies is een van vyf nuwe gekontrakteerde spelers wat volgende seisoen vir die SWD-krieketunie sal speel. Dié spelers sluit Kelly Smuts (jonger broer van die Protea-krieketspeler Jon-Jon Smuts), Hano Kotze, Simon Khomari, en Levin Muller in.
SWD se mees ervare speler, Brendon Louw, het onlangs dié unie verlaat en hom by die Westelike Provinsie aangesluit. Albertus Kennedy, SWD se hoof-uitvoerende beampte, het sy vertroue teenoor dié opwindende gekontrakteerde spelers uitgespreek en gesê dat hy uitsien na die uitdagings wat die volgende krieketseisoen sal bied.
Die volledige gekontrakteerde SWD-krieketgroep is:
Herchell America; Kirwin Christoffels; Jean du Plessis; Neil Hornbuckle; Simon Khomari; Hanno Kotze; Renaldo Meyer; Levin Muller; Tsepo Ndwandwa; Kelly Smuts; Jhedli van Briesies.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'