OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Die Hungry Lions en die FireStars-vlakkiekrieketspan is deur na die eindstryd van die Big Bash Honderdbal-reeks na oorwinnings die afgelope naweek oor die Champs en Tornadoes.
Beide wedstryde is Sondag op Malley Park (Aurial Kollege-sportterrein) gespeel.
In die eerste wedstryd het die Champs die loot teen FireStars gewen en besluit om eerste te kolf.
In hul toegelate 100 balle kon hulle slegs 63 lopies opstapel. FireStars se lopiejaagtog het aanvanklik goed begin toe hul openingspaar 20 lopies plus op die telbord geplaas het.
Champs het egter moedig geveg en met suinige boulwerk deur veral Faizle Lewis die lopiekraan behoorlik toegedraai. FireStars het die telborddruk begin voel en in 'n poging om momentum te kry, vinnige paaltjies verloor.
Damion Esau van die FireStars se hardnekkige kolfbeurt was deels verantwoordelik dat sy span in die laaste boulbeurt die wa deur die drif kon trek.
In die tweede wedstryd het die Hungry Lions die Tornadoes spotgoedkoop vir 43 lopies uitgehaal. Die Lions het sonder om 'n paaltjie te verloor, die wedstryd in die sesde boulbeurt gewen.
Hungry Lions sal nou teen Fire-Stars in die finale op 27 November te staan kom.
Een van die Champs se boulers word skoongeboul.
Blaine Willemse van die Hungry Lions maak gereed om die bal uit die park te slaan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'