OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Firestones, Oudtshoorn se nommer een vlakkiekrieketspan en die OPL Kings, het verlede naweek na Willowmore gereis en die gasheer, soos drie weke gelede in Oudtshoorn, weer laat les opsê.
Ter versagting moet 'n mens ook noem dat die spanne van Willowmore dié keer veel meer weerstand gebied het as wat laas die geval was.
Veral die Firestones moes verlede Sondag op 'n stadium behoorlik die kastaiings uit die vuur krap om teen 'n begeesterde Willowmore te wen. Al die wedstryde op dié dag is met 'n geel, harde rubberbal gespeel - 'n aanpassing vir Oudtshoorn se spanne wat slegs met tennisballe vlakkiekrieket speel.
In die eerste Pro-10-wedstryd tussen Firestones en Willowmore kan die gasheer daarin slaag om 'n stywe 71 lopies vir die verlies van ses paaltjies in 10 boulbeurte op die telbord te plaas. Dit het beteken dat Firestones teen sewe lopies moes kolf om dié teiken te bereik. Firestones het toe die wenlopies met slegs agt balle oor bereik, wat aan hulle 'n oorwinning van ses paaltjies besorg het.
Die OPL Kings het in die tweede Pro-10-wedstryd teen 'n gemengde vlakkiekrieketspan van Willowmore 'n indrukwekkende 128 lopies vir die verlies van vyf paaltjies gemoker. Willowmore was van bal een af onder groot druk om die lopie tempo van 12 per boulbeurt vol te hou, maar het ongelukkig weens telborddruk geswig en is vir 48 lopies in die 10de boulbeurt uitgeboender. OPL Kings wen dus met 80 lopies.
In die hoof T20-wedstryd was tussen Willowmore Hillview en Firestones het die besoekers eerste gekolf en 148 lopies in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken. In antwoord het Willowmore Hillview 128 vir die verlies van ses paaltjies in 20 boulbeurte aanteken. Firestones wen met dus naelskraap met 11 lopies. Volgens Gavin Pietersen, OPL-koördineerder, was dié wedstryd deurgaans in die weegskaal met Willowmore wat goeie rekenskap van hulself gegee het. "Met 'n klein bietjie geluk en meer sonlig teen die einde van die wedstryd in Willowmore se lopiejaagtog, was dit moontlik dat die tuisspan tog vir 'n verrassing sou sorg. Nietemin alle eer aan al die spanne wat opwindende krieket in goeie sportmangees gespeel het. Namens die OPL-bestuur wil ons ook net Willowmore vir hul gasvryheid bedank."
Vir die Firestones met Johben Barends en Damion Esau kolf met die kolf uitgeblink terwyl die veteraan veelsydige speler Petrus Fredericks se ervaring goud werd was.
André Piedt van die OPL Kings het met die geel rubberbal behoorlik amok gesaai en vyf paaltjies vir nege lopies in twee boulbeurte platgetrek. Jermain Lekay en Dillon Nuys was die groot helde met die kolf.
Firestones in aksie tydens 'n Pro-10-wedstryd in Willomore. Foto verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'