SUID-KAAP KRIEKET NUUS - Enverino Swartz, openingskolwer van Union Stars, het Saterdag op Knysna in 'n SWD Premierliga-wedstryd teen Knysna Kavaliers sy eerste honderdtal (129) in dié elite reeks gemoker. Volgens Swartz was dit geen maklike taak nie omdat die blad baie lewendig aan die begin van die kolfbeurt was.
"Ek moes eers my oog inspeel, en kon eers later in my kolfbeurt my verskeidenheid aanvallende houe na willekeur begin uitstal", het Swartz gesê.
Volgens Swartz was die lekkerste gedeelte van sy marathon-beurt die feit dat hy vir 49 uit 50 boulbeurte voor die penne kon deurbring om te verseker dat sy span 'n kompeterende telling op die telbord kon plaas.
Swartz het ook erkenning gegee aan Leroi Bredekamp (38), Levano Nathan (27) en Merlin Masimela (25*) wat hom goed in sy kolfbeurt bygestaan het. Union Stars het uiteindelik dié wedstryd met 60 lopies gewen nadat hulle eerste gekolf het en 253/4 aangeteken het.
Kavaliers kon in sy beurt slegs 193/9 vermag. Vir Union Stars het Dillon Nuys die kolwers omtrent laat bontstaan en 4 paaltjies vir 40 lopies laat kantel. Met hierdie oorwinning het Union Stars sy voorsprong op die SWD Premierliga punteleer na 43 punte gerek, gevolg deur Harlequins Forces wat in die tweede plek is met 33 punte.
Union Stars se volgende wedstryd is Saterdag teen George-krieketklub op die Bridgton-sportterrein.
'Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap nuus'