OUDTSHOORN NUUS - Dill Bill-krieketakademie het onlangs sy eerste o. 13 Ses-aan-'n-kant-toernooi vir dogters by Laerskool Colridge met groot sukses aangebied. Die drie skole wat deelgeneem het was Colridge Primêr, Laerskool Saturnus en Laerskool De Villiers.
Die span van Colridge het albei hul wedstryde gewen en op grond van hul hoogste eerstebeurttelling van 56/4 in die eerste wedstryd, het hulle 'n plek in die eindstryd verseker.
In die eindstryd het Colridge eerste teen Saturnus gekolf en 47 lopies vir die verlies van drie paaltjies in hul ses boulbeurte aangeteken waarna Saturnus geantwoord het met 10 lopies almal uit. Dus wen Colridge die eindstryd met 40 lopies.
Volgens die stigterslid van Dill Bill, Dillan Moos, is die doel van die toernooi om jong dogters bewus te maak van die wonderlike spel van krieket.
"Dit help hulle ook om aktief te bly terwyl hulle van kleins af vaardighede ontwikkel om krieket te geniet. Behalwe om pret te hê, kan hierdie jong dogters voortgaan en hoër eerbewyse behaal deur byvoorbeeld die geleentheid te kry om provinsiale krieket te speel of Suid-Afrika in die toekoms te verteenwoordig," het Moos gesê.
Moos het ook sy dankbaarheid aan Colridge Primêr uitgespreek vir die beskikbaarstelling van die skool se fasiliteit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’