Gallery
OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Dill Bills krieketakedemie het Vrydagaand by Bridgton sekondêre skool sy amptelike bekendstelling gehou. Hierdie akademie fokus hoofsaaklik om o.11- tot o.13-ouderdomsgroepe se vaardighede in kolf-, veld- en boulwerk te slyp.
Leerders wat in die o.15 groep val, is egter ook welkom. Sowat 50 gaste het dié geleentheid bygewoon met die voorsitter van Union Stars-krieketklub, Michelle Weyers, wat as die gasspreker opgetree het.
Weyers het die 23-jarige Dillan Moos (stigterslid van die akademie) in haar toespraak geprys en gesê dat hierdie inisiatief 'n prestasie is veral omdat hy dit op 'n relatiewe jong ouderdom vermag het.
Sy het egter benadruk dat geen organisasie teen teenspoed gevrywaar is nie. Die geheim van langlewendheid in enige bedryf is om uitdagings te oorkom om sodoende jou suksesse met trots te kan vier, het sy gesê. Moos, wat self 'n voormalige SWD speler is, het in sy spreekbeurt vertel dat die idee om sy eie krieketakademie te stig, reeds in 2015 gestalte gekry het.
"Ek het aanvanklik getwyfel omdat daar reeds so baie hoëprestasiekrieketsentrums in die area is. My passie vir krieket het egter op die einde van die dag geseëvier en ek het besluit om tog my droom na te jaag."
Dill Bills krieketakademie se bestuurslede van links is Valencia Stuurman, Dillan Moos (stigter), Mark Anthony en Katrisha Strydom. Afwesig (Raymond Solomons en Abigail Bird.
Moos het ook 'n nasionale diploma in sportbestuur wat hy by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie verwerf het. Hy beskik ook oor 'n afrigtingsdiploma (vlak 1) wat hy van Krieket Suid-Afrika (KSA) ontvang het.
Dill Bills krieketakedemie is onlangs as 'n nie-winsgewende organisasie geregistreer en spog tans met 15 leerders van verskillende laerskole in die Oudtshoorn-omgewing.
Tans gebruik dié akademie Hoërskool Oudtshoorn se velde en fasiliteite. Belangstellendes kan Moos by 078 875 9285 kontak of 'n e-pos na moosdilly@gmail.com stuur.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'