Gallery
OUDTSHOORN KRIEKET-NUUS - 'n Koelkop-kolfvertoning deur die Cape Cobras se Zubayr Hamza (88*), tesame met 'n puik veelsydige vertoning deur George Linde (57 lopies en 3/39), was grotendeels daarvoor verantwoordelik dat die Highveld Lions Sondag op die Oudtshoorn-sportterrein met 21 lopies teen dié span van die Westelike Provinsie in die Momentum One Day Cup verloor het.
Die Momentum One Day Cup is tans Suid-Afrika se top-eendagkriekettoernooi.
Cobras het die loot gewen en besluit om eerste te kolf waarna die span 298/5 in sy toegelate 50 boulbeurte aanteken het. Die Cobras se aanvangskolwers en broers, Janneman en Pieter Malan, het 'n stewige openingsvennootskap van 82 lopies op die telbord geplaas. Zubayr Hamza het voortgebou op die stewige grondslag wat die openingskolwers gelê het, en het sy kolfbeurt met 88 onoorwonne lopies afgesluit.
George Linde (57 van 55 balle ), en Jason Smith ( 35* van 25 balle) het aan die einde van die Cobras se kolfbeurt die wilgerlat lustig geswaai en verseker dat die Lions 'n uitdagende 299 lopies vir 'n oorwinning moes aanteken.
Vir die Lions was dit slegs die draaibalboulers Aaron Phangiso (2-51) en Nono Pongolo (2-34) wat enigsins hond haaraf met die bal kon maak. Die Lions se lopie-jaagtog het katastrofies begin toe hul staatmakerkolwer Ryan Rickleton in die 4de boulbeurt vir slegs 6 lopies uitgehaal is.
Reeza Hendricks (37), Kagisa Rapulana (46) en Rassie van der Dussen (37), het moedig probeer, maar kon nie hul belowende kolfbeurte in groot lopies vir hul span omskakel nie.
Die veelsydige speler, Dwaine Pretorius, het met sy verwoestende 75 lopies van slegs 42 balle die Lions tot op die einde in die prentjie gehou. Foto verskaf
Hul veelsydige speler Dwaine Pretorius, het egter in die laaste 10 boulbeurte die Cobras se boulaanval onder massiewe druk gesit en 'n verwoestende 57 lopies (vier sesse en vyf viere) van slegs 55 balle gemoker om sy span 'n buitekans vir 'n onwaarskynlike oorwinning te gee. Groot was die verligting van die Cobra-ondersteuners toe Pretorius in die 48ste boulbeurt op die grens deur Linde uitgevang is van die draaibalboulwerk van Dane Piedt. Linde is ook as die speler van die wedstryd aangewys vir sy 57 lopies en boulsyfers van 3/39 in sy 10 boulbeurte.
Volgens Albertus Kennedy, was die wedstryd 'n uitstekende vertoonvenster vir krieket.
Hy het gesê dat die SWD-krieketunie 'n ooreenkoms met die Cape Cobras het wat verseker dat plaaslike liefhebbers in die toekoms na provinsiale krieketwedstryde van soortgelyke hoë gehalte kan uitsien.
Hy het ook die Cobra en Lions-spelers se geduld en gesindheid teenoor die opgewonde toeskouers geloof wat na die wedstryd handtekeninge uitgedeel en foto's met hulle geneem het.
Die Cape Cobras se bemarkingsbestuurder, David Brooke, was baie in sy noppies met die toestand van die Oudtshoorn-sportterrein se lowergroen krieketveld en fasiliteite.
"Ons kan nie wag om Oudtshoorn weer te besoek nie," het hy gesê.
Links is Albertus Kennedy (hoof- uitvoerende beampte van SWD-krieket), George Linde (speler van die wedstryd) en Rudy Claassen (president van SWD-krieket). Foto: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'