OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - 'n Meesterklas kolfvertoning deur die Cape Cobras se Pieter Malan (106 lopies van 114 balle) was grotendeels daarvoor verantwoordelik dat die Warriors Sondag op die Oudtshoorn-sportterrein met 31 lopies volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode die onderspit gedelf het.
Die Duckworth-Lewis-Stern-metode is 'n wiskundige formule wat ontwerp is om die teiken te bereken vir die span wat tweede kolf wanneer 'n eendagwedstryd deur reën of ander omstandighede onderbreek word.
Malan, wat verlede maand sy debuut vir die Protea-toetsspan gemaak het, was pure klas en sy arsenaal houe wat hy uitgestal het tydens sy beurt was voorwaar 'n lus vir die oog om te aanskou. Nee kyk, as 'n kolwer vir so twee ekstra sekondes sy kolf in dieselfde posisie hou nadat hy 'n grenshou gemoker het, moet jy weet dat dit pure lekkerte en selfvertroue in sy tegniek verklap.
Malan se beurt het altesaam 9 viere en 2 sesse ingesluit. Die Cobras het die loot gewen en het 274 lopies vir die verlies van 6 paaltjies op die telbord na 49 boulbeurte geplaas. As gevolg van 'n reënbui wat gedurende die wedstryd uitgesak het moes die wedstryd na 49 boulbeurte verkort word in plaas van die normale 50 boulbeurte.
Fotogalery: Cape Cobras vs Warriors in Oudtshoorn
Sondag se wedstryd was natuurlik vir Oudtshoorn se toeskouers ook 'n geleentheid om hul grootmaakkind wat deesdae vir die Warriors speel, Glenton Stuurman (bouler), in aksie te sien. Stuurman het voorheen vir die SWD gespeel en is verlede seisoen 'n kontrak deur die Warriors aangebied. Hy het nie teleurgestel nie en het met sy derde bal in die Warriors se tweede boulbeurt 'n paaltjie platgetrek toe hy Hanno Kotze been voor paaltjie betrap uit. Hierdie paaltjie het 'n oorverdowende applous van die toeskouers uitgelok en 'n mens sou die Warriors verskoon as hulle dalk verkeerdelik gedink het dat die meerderheid skare hul span ondersteun en nie die Cobras nie.
Zubayr Hamza, wat ook verlede maand sy Protea-kleure verwerf het, het goed vir sy 21 lopies vertoon voordat hy deur Onke Nyaku na 'n liederlike misverstand met Malan uitgehardloop is. Hamza se paaltjie het die linkshandige kolwer, Simon Khomari na die penne gebring, maar dié kon slegs 12 lopies vermag voordat hy deur Dyllan Matthews skoongeboul is. Met die telling op 102/3 het sake op hierdie stadium ietwat beroerd vir die Cobras gelyk.
Jason Smith het egter van bal een af die Warriors se boulers ongenadiglik na alle uithoeke van die veld kasty en het tesame met Malan 'n waardevolle vennootskap van 84 lopies om die vierde paaltjie aangeteken.
Smith, wat uiteindelik 76 lopies van slegs 86 balle gemoker het, was goed deur die veelsydige George Linde (31 lopies van 14 balle) ondersteun wat die Cobras tot 'n uitdagende 274 lopies aangedryf het. Die Warriors se toporde kolwers kon in hul kolfbeurt net nie aan die gang kom nie as gevolg van die Cobras se jong snelbouler, Thando Ntini (4/36) wat amok met die bal gesaai het. Ntini is die seun van die voormalige legendariese Protea-bouler, Makhaya Ntini en dit was duidelik vir almal teenwoordig dat hy beslis sy Pa se boul-gene en entoesiasme vir die spel geërf het.
Rudi Second was die enigste kolwer wat tussen die Cobras en 'n oorwinning gestaan het, maar hy kon ongelukkig nie 'n gewillige kolfvennoot vind nie.
In 'n poging om met die vereiste lopie tempo van 9 lopies per boulbeurt tred te hou het Second in die 35ste beurt die pap tevergeefs probeer dik aanmaak. Hy is egter briljant van die boulwerk van Ntini vir 'n vegtende 66 lopies van slegs 65 balle uitgevang. Die Warriors se oorblywende kolwers kon na Second se vertrek slegs 245 (almal uit) in 47 boulbeurte vermag.
Stuurman se onoorwonne 18 lopies aan die einde van die Warriors se kolfbeurt het vir groot vermaak gesorg en die toeskouers kon doodtevrede huiswaarts keer met die wete dat hul seun sowel as hul gunstelingspan bevredigend presteer het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'