OUDTSHOORN SPORT NUUS - Ottniel Baartman, gebore Oudtshoorniet en voormalige SWD-krieketspeler, het verlede Sondag sy dorp trots gemaak toe hy in die eindstryd van gewilde internasionale Betway SA T20-krieketreeks saam met sy span, Sunrisers Eastern Cape, die toernooi gewen het.
Sunrisers het teen Pretoria Capitals in die eindstryd te staan gekom en die einste Baartman het twee paaltjies in drie boulbeurte vir slegs 22 lopies afgestaan.
Baartman se slagoffers was die gevaarlike internasionale spelers Balapuwaduge Mendis (21 lopies) van Sri Lanka en Jimmy Neesham (19 lopies) van Nieu-Seeland.
Capitals het eerste gekolf en 135/10 in 19.3 boulbeurte op die telbord geplaas met die Sunrisers wat die teiken gemaklik in die 16de boulbeurt bereik het met vier paaltjies nog staande.
Adam Rossington, 'n speler van Engeland, het 'n briljante warrelwind 50-tal van slegs 30 balle vir Sunrisers aangeteken. In die boulafdeling het Sunrisers se Roelof van der Merwe vier paaltjies in vier boulbeurte geneem en slegs 31 lopies afgestaan.
Van der Merwe is ook as speler van die wedstryd aangewys met Sunrisers se kaptein, Aiden Markram, wat die speler van die reeks-toekenning ontvang het.
In dié reeks het Baartman altesaam 12 paaltjies laat kantel, agt minder as Van der Merwe se totaal van 20 paaltjies. Daar moet egter ook in ag geneem word dat Baartman vir vier wedstryde in dié reeks nie gespeel het nie.
Baartman se uitstekende boul-vertoning in hierdie elite internasionale T20-reeks voorspel goeie dinge vir toekomstige opname in die Proteaspan. Hy is in 2021 reeds nadergetrek vir die nasionale toetsspan wat na Pakistan gereis het, maar moes toe weens mediese redes onttrek.
Tans is Baartman 'n lid van die Dolphins-krieketspan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'