OUDTSHOORN NUUS - Die Timbercity Klein-Karoo sake-aflos is om die draai en inskrywings is besig om in te stroom.
Die jaarlikse sportbyeenkoms word deur die Klein-Karoo Atletiekfonds (KKAF) aangebied en vind op weer op Donderdag 22 Februarie in Baron van Reedestraat, Oudtshoorn, plaas.
Met die 2017 sake-aflos het meer as 80 spanne en oor die 400 deelnemers in dié feestelike sportgeleentheid gedeel.
Die spanne word uit skole (hoër- en laer), besighede, staats- en semi-staatsinstellings opgemaak, waar die Oudtshoorn-gemeenskap die geleentheid gebied word om mekaar beter te leer ken.
Die sake-aflos begin en eindig om 18:00 voor die Santa Fe Spur en deelnemers draf en stap tussen Voortrekkerweg en Van der Rietstraat.
Die Oudtshoorn-sakekamer het by monde van die voorsitter, Gideon Badenhorst, hulle volle ondersteuning toegesê aan die prysenswaardige projek.
Dave van der Walt, operasionele bestuurder van die KKAF, het gesê hulle oorweeg om hierdie jaar 'n Fancy Dress-tema in te voeg.
Daar kan in verskillende kategorieë deelgeneem word. Dit bestaan uit stap (4 per span) of draf (6 per span).
Elke lid van 'n span lê net 2 km af. Spanne kan ook as volg saamgestel word: Mans, dames, mans en dames (twee van elk), hoërskole, laerskole en gestremdes.
Van der Walt sê slegs 100 spanne kan geakkommodeer word. "So, die wakker-slapers gaan eerste gehelp kan word."
Daar mag meer as een span per instansie ingeskryf word.
Die koste beloop R20 per persoon - drawwerspanne (R120) en stapspanne (R80).
Alle deelnemers van spanne wat klaarmaak ontvang 'n bronsmedalje, terwyl die wenspanne in elke kategorie goue medaljes ontvang.
Daar sal ook heelwat pryse op die spel wees.
Inskrywingsvorms kan by die Eden-sportakademie (De Jager-sportkompleks) en die Oudtshoorn-toerismeburo (regoor die munisipale gebou in Voortrekkerweg) gekry word en ook daar ingehandig word.
Dit kan ook elektronies na die instansies gestuur word.
Dit kan ook by Van der Walt (davesus@telkomsa.net) aangevra word of laai dit van die KKAF-webtuiste (www.edenmiles.co.za) af.
Vir meer inligting kan Van der Walt by 082 773 4901 geskakel word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'