OUDTSHOORN NUUS - Johann Coetzer (64), meestersatleet van Oudtshoorn, het die afgelope naweek sy dorp se naam hoog gehou in Pretoria toe hy 'n silwermedalje by die Afrika-meesterskampioenskap in verspring behaal het.
Altesaam 422 atlete vanoor die wêreld het deelgeneem by hierdie elite atletiekbyeenkooms wat Amerika, Algerië, Australië, Burundi, Kameroen, Estonia, Ethiopië, Duitsland, Ivoorkus, Kenia, Mauritius, Namibië, Tunisië en die Wes Indiese eilande ingesluit het.
Coetzer sê dat hy in die 60 tot 64- kategorie deelgeneem het, wat hom ook die oudste deelnemer in sy kategorie gemaak het.
"Om silwer te verower is vir my baie spesiaal juis omdat die ander atlete jonger as ek is. My voorbereiding en algehele fiksheid was egter die groot faktor wat ek tot my voordeel gebruik het. Tuis het ek byvoorbeeld iemand soos dr. Jannie du Toit se raad gevolg om af te skaal met my oefeninge omdat hy verduidelik het dat ek te veel stres op my spiere plaas wat dit nie meer kan hanteer op my ouderdom nie. Spesifieke oefeninge en 'n goeie dieet het definitief die deurslag gegee," vertel Coetzer.
Volgens Coetzer sal die skoen aan die ander voet wees wanneer hy vir die eerste keer aantree in die 65 tot 69-kategorie.
"Ek sal dan die jongste in my kategorie wees, en wie weet, dalk kan ek die goue medalje huis toe bring. Hoe dit ook al sy, atletiek is al die jare my passie en ek sal seker moet dood neerslaan voor ek dit sal opgee," skerts hy.
Alhoewel hy tans op die golf van sukses ry, vertel Coetzer dat die aanloop tot vanjaar se meesterskampioenskappe by tye depressief was en het hy ook trauma beleef toe hy sy verhuurder dood in haar huis aangetref het.
"Dit was nogal 'n groot skok vir my om te verwerk omdat ek en my vrou al 25 jaar by haar gewoon het en ek en sy baie na aan mekaar was. Dit, tesame met die stres van my Protea-kleure was amper genoeg om my te laat onttrek van die meesters. Ek's dankbaar vir al die ondersteuning van almal om my wat my deur hierdie moeilike tydperk getrek."
Die Eden-meestersatletiek-byeenkoms in November 2024 is volgende op Coetzer se lysie van doelwitte en hoop hy om ook hier, skoonskip te maak in sy kategorie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’