DE RUST NUUS - 'n Jong atleet van De Rust Primêr, Breany Swartbooi (10), het verlede week geskiedenis gemaak tydens die Eden-atletiekkampioenskappe vir skole toe sy 'n nuwe SA rekord in die 100 m vir dogters opgestel het.
Swartbooi se tyd van 14,5 sekondes, is 'n verbetering op die vorige SA rekord van 14,8 - dus 'n verbetering van drie honderdstes van 'n sekonde. Sy het ook die eerste plek losgehardloop en in die proses haar SWD-kleure verwerf.
Haar ouers is Heraldine Swartbooi en Weston Stuurman, albei woonagtig in Blomnek-woonbuurt in De Rust. Volgens haar ouers is Breany se atletiekgene te danke aan haar moeder wat ook op skool 'n kranige atleet was.
"Ek kon van kleintyd af al sien dat sy 'n kind was wat vinniger was as haar maats. Sy wil altyd net vinniger en vinniger hardloop. Steeds bly dit vir ons 'n verrassing dat sy op 'n vroeë ouderdom al 'n SA rekord gebreek het. Ons, en die hele straat en gemeenskap is baie trots op haar. Sy doen ook akademies baie goed en dit maak ons harte bly dat sy nie haar skoolwerk afskeep nie. Sy is byvoorbeeld altyd van die topleerders in haar klas."
Breany Swartbooi saam met haar onderwyser, Dianah Jonathan. Foto verskaf
Diana Jonathan, sportkoör-dineerder van die skool het Breany se ma se woorde beaam: "Breany neem vandat sy sewe jaar oud was deel aan atletiek en haar talent was van die eerste dag af baie opvallend. Sy het elke jaar die skoolspan gehaal asook die Oudtshoorn-span. Gewoonlik het sy dan derde plek behaal. Hierdie jaar het ons egter hard gewerk om haar spoed te verbeter en hierdie rekord is die vrugte van ons harde werk. Ons kan net die Here dank vir die talent wat hy haar gegee het. Ons vertrou dat sy Saterdag die hele gemeenskap sal trots maak, net haar beste sal goed genoeg wees vir ons," het Jonathan gesê.
Swartbooi gaan nou die komende naweek SWD tydens die Wes-Kaapse atletiekbyeenkoms in die Paarl op 8 en 9 Maart verteenwoordig.
Weens finansiële beperkings ondervind Breaney egter probleme om die uitgawes te dek om aan die Wes-Kaapse atletiek-kampioenskappe deel te neem.
Persone wat 'n bydrae in hierdie verband wil lewer kan Swartbooi se ma by 084 212 8415 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’