OUDTSHOORN ATLETIEK-NUUS - Toy Ungerer, Johann Coetzer en Frans Kalp het verlede Saterdag Oudtshoorn se naam hoog gehou tydens die Suid-Afrikaanse Meesters- atletiekbyeenkoms wat by die De Jagers-sportkompleks plaasgevind het.
Ungerer, wat in die 70 jaar en ouer vroueafdeling deelgeneem het, het eenvoudig nie haar gelyke gehad nie en het skoonskip in die 100 m, 200 m en 400 m gemaak.
Coetzer het op sy beurt in beide die hoog- en verspring items vir nasionale kleure gekwalifiseer toe hy die SWD-rekords in dié items oortref het. Die SWD-rekord vir mans bo 60 jaar in hoogspring is 1,42 m, terwyl die standaard hoogte om vir nasionale kleure in aanmerking te kom 1,44 m is.
Hy kon daarin slaag om 1,45 m te spring om 'n silwermedalje in te palm. In die verspring moes hy 4,85 m spring om vir nasionale kleure te kwalifiseer en het hy uiteindelik 5,16 m gespring wat ook aan hom die goue medalje besorg het.
Die SWD-rekord in dié afdeling was 4,73 m. Coetzer het sy slag ook in die 200 m gewys toe hy 'n bronsmedalje los gehardloop het. Kalp het in die 400 m vir mans 55 en ouer afdeling 'n bronsmedalje ingepalm.
Toy Ungerer.
Johann Coetzer. Foto's: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'