OUDTSHOORN NUUS - 'n Plaaslike atleet wat vanjaar aan sy heel eerste Comrades deelgeneem het, het uitstekend gevaar. John April (30) het die afgelope naweek imet die Comrades in die 115de plek oor die wenstreep gedraf en 'n silwermedalje verdien.
Nog 'n Oudtshoorniet, Jason Jafta, het ook goed gevaar en 'n brons medalje ontvang. April het met 'n ongelooflike tyd van ses uur en 44 minute geeïndig,
Om April se prestasie in perspektief te plaas moet 'n mens in ag neem dat vanjaar se Comrades-marathon wenner, Edward Mothibi, slegs 'n uur vinniger (vyf ure en 31 minute) was.
Die Comrades-marathon wat oor 87 km beslis word, vind jaarliks vanaf Durban tot Pietermaritzburg plaas.
"Ek het nooit tydens my skoolloopbaan by die Oudtshoorn Vaardigheidskool my atletiek ernstig opgeneem nie en het altyd slegs vir die pret in die 400 m deelgeneem. Omdat ek gesukkel het om te lees en skryf het ek egter, na mate ek ouer geword het, besef dat ek 'n lewe vir my en my gesin uit my draftalent kan maak."
April doen tans twee dae per week tuinwerk vir 'n inkomste om sy vrou en drie kinders te onderhou. Hy is egter ook vaardig in loodgieter- en bouwerk.
In 2014 het hy vir die eerste keer kompeterend vir die Netbank-atletiekklub begin draf en van toe af gereeld podiumplekke begin inpalm.
April vertel dat sy doelwit vanjaar was om onder die ses ure merk die Comrades te voltooi, maar dat krampe in die laaste 25 km hom gekortwiek het.
"Omdat ek nie 'n vaste inkomste het nie, kon ek nie streng by die oefen- en dieetplanne hou nie en dit het 'n reuseverskil gemaak ten opsigte van my voorbereiding," het hy gesê.
Alhoewel hy nie oor 'n borg beskik nie, is hy baie dankbaar vir die bydrae vir vervoerkoste en vitamien-aanvullings wat Nedbank-atletiekklub gemaak het.
Jason Jafta
Volgens Lampies Lambrecht, senior lid van die Nedbank-atletiekklub, is dit volgens sy kennis tot dusver die beste tyd en posisie wat 'n Oudtshoorniet ooit by die Comrades-marathon kon behaal.
Die bekende en deurwinterde atleet, Jason Jafta, het vanjaar aan sy 28ste Comrades deelgeneem en het in 'n tyd van 10 uur en 42 minute geeïndig. Dit het aan hom 'n bronsmedalje besorg.
Jafta sê dat hy, ondanks 'n besering aan sy regterbeen, steeds tevrede is met sy algehele tyd.
Volgens Jafta, wat vroeër uit die verplegingsdiens getree het, het hy geen planne om in die nabye toekoms af te skaal nie.
"My finale Comrades-marathon sal ek waarskynlik eers hardloop wanner ek 80 jaar oud is," het hy geskerts.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'