OUDTSHOORN NUUS - Die Laser-run Eden-kampioenskappe het verlede Sondag by Glenwood House in George plaasgevind. Laser-run is 'n kombinasie van hardloop en laser-pistoolskiet wat bestaan uit drie of vier rondes, afhangend van die atleet se ouderdom.
Die afstand waarvan geskiet word en die afstand wat gehardloop word hang dus af van die ouderdom van die atleet.
Dit wissel van 5 m tot 10 m by die skiet, en die hardloop bestaan uit afstande van 400 m tot 800 m per ronde.
Twee atlete van Oudtshoorn, Thys Jamneck (senior mans) en Bart Saaiman (50 jaar plus) het uitstekend gevaar en albei 'n goue medalje in hul onderskeie ouderdomsgroepe ingepalm.
Veral Jamneck se prestasie is indrukwekkend as 'n mens in ag neem dat hy vanjaar eers begin deelneem het aan die opwindende sport.
Beide Jamneck en Saaiman kwalifiseer vir die SA kampioenskappe wat vanaf 8 tot 9 Maart in Bloemfontein sal plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'