Bennedict Moeng van Transnet Rail E, in 'n tyd van 2:14.16 (mans) en Peris Jepkorir van Kenya, in 'n tyd van 2:39.56 (vroue) het met die louere en R60 000 elk weggeloop.
Ter wille van die Sportfees het PetroSA goedgunstiglik ingestem om die PetroSA marathon, 'n Comrades kwalifiserende wedren, na 'n nuwe tydgleuf te verskuif.
Die Weskaapse minister van kultuursake en sport, dr Ivan Meyer, het om 07:00 die afsitterspistool laat klap en atlete het met oorgawe meegeding teen twee Olimpiese atlete en vir 'n indrukwekkekende som in prysgeld.
PetroSA se personeel het verskeie waterpunte, wat in die tema van die Olimpiese Spele uitgedos was, beman. Die wenners van die waterpuntkompetisie was "Home of Greece", wat deur die Inspeksie, Opleiding, Nuwe Ondernemings en Laboratorium-afdelings hanteer is. Die waterpunt met die beste gees was die "Swem" span wat die Store en Verkrygingsdepartemente verteenwoordig het. Volgens een van die beoordelaars, Jean Labuschagne, was die keuse besonder moeilik en was elke span in eie reg 'n wenner vir hul entoesiastiese en vindingryke gemeenskapsdiens.
As deel van die borgskap volg 'n ontwikkelingswedren op 12 Oktober by die D"Almeida sportgronde.
Uitslae:
Die Marathon oor 42.2 km is deur Benedict Moeng in 'n tyd van 2:14.16 gewen. Die wentyd is ook 'n verbetering op die beste tyd van vorige jare.
Sibusiso Nzima het ook op vorige wentye in die 21.1 km halfmarathon verbeter toe hy die afstand in 1:02.23 afgelê het.
Andries Jeomy van Johannesburg het die 10 km in 0:29.04 gewen.
In enkele van die ander uitslae, is die mans veterane afdeling deur die Springbok en Olimpiese atleet, Gert Thys, in 2:25.49 gewen. Thys het Suid-Afrika in 1996 en 2004 in die Somer Olimpiese Spele verteenwoordig. Die Meestersafdeling is deur Sidney Landsberg in 'n tyd van 2:46.24 voltooi, terwyl die Grootmeesters-afdeling duer Arthur Valasis in 3:32.35 kafgedraf is.
In die Ope Vroue-afdeling het die Keniaan Peris Jepkorir (2:39.56) geseëvier oor Isabella Jepchumba (2:41.22) en Pamela Bundotic (2:45.54), ook van Kenia. Annatjie Botes (3:22.47) het die Meesters-afdeling en Toekie Steenkamp in 4:00.08 het die Grootmeesters-afdeling gewen.
Die halfmarathon Ope vir Mans is deur Sibusiso Nzima in 1:02.33 gewen terwyl Mutekile Rasmeni in 1:17.22 eerste geëindig het in die Veterane klas.
Die Ope Vroue halfmarathon is deur Zintle Xiniwe in 1:17.23 gewen. Kleintjie van Schalkwyd, die vrou wat die meeste Comrades Marathons in Suid-Afrika voltooi het, het in 'n tyd van 1:41.38 die Vroue Veterane afdeling gewen.
Die 10km Ope vir Mans is deur Andries Jeromy in 29:04 gewen en Selwyn Losper van Mosselbaai Harriers het in 34:10 korte mette met die veterane afdeling gemaak. Die Ope Vroue-afdeling is deur Thomzama April in 'n skittertyd van 35:46 gewen.

Sommige van die 588 atlete net voor die aanvang van die PetroSA Marathon. Foto: PetroSA

Hierdie man van George het die sorg van 'n PetroSA waterpunt opgesoek toe sy achilles spiere hom net nie verder wou dra nie. Dit is nie seker of hy die wedloop voltooi het nie. Foto: Nickey le Roux

Russel Mamabolo, die PetroSA woordvoerder, saam met die dr Ivan Meyer, die Weskaapse minister van kultuursake en sport net voor die aanvang van die PetroSA Marathon. Foto: PetroSA