OUDTSHOORN ATLETIEKNUUS - Na byna twee jaar van striemende Covid-regulasies hoop Eden Tweekamp om 2022 op 'n positiewe noot te begin deur 'n vol program vir die tweekampatlete aan te bied.
Die seisoen begin reeds met die Eden-proewebyeenkoms op 25 Januarie waar meriete- en ontwikkelingsspanne gekies sal word om aan die Highgate Interprovinsiaal deel te neem.
Die geleentheid vind op 5 Februarie op Oudtshoorn plaas. Daarna volg drie ligabyeenkomste op George, Mosselbaai en Oudtshoorn asook die bekende Wimpy Doubles-byeenkoms wat op 1 Februarie sal plaasvind.
Op 1 Maart vind die Eden-kampioenskappe plaas waar die Eden-span gekies word wat op 1 en 2 April aan die SA-kampioenskappe in Port Elizabeth sal meeding.
Tweekamp bestaan uit twee komponente, naamlik hardloopitems (400m en 800m) en swemitems (25m – 100m). Vir elke komponent kry die atleet 'n punt vir hul tyd en word die twee punte saamgetel vir die totaal. Vir die meer senior atlete is daar ook bonuspunte gekoppel aan hulle ouderdom.
Daar word ook 'n ontwikkelingskliniek op Riversdal op 9 Februarie gehou terwyl die Eden-bestuur op 12 Januarie hulle strategiese beplanningswerksessie sal doen.
Tweekamp in Suid-Afrika, en dus ook Eden, betreë 'n nuwe tydvak deurdat daar nuwe, verkorte afstande is en ook ouderdomsaanpassings om in te skakel by die internasionale tendense.
Dit sal ook behels dat byeenkomste nou korter van duur sal wees. Alle atlete vanaf 7 jaar tot 80+ is welkom om deel te neem. Tweekamp is by uitstek 'n gesinsport en maak ook voorsiening vir persone met gestremdhede wat wil deelneem.
Vir meer inligting kontak die operasionele bestuurder, Dave van der Walt, by 082 773 4901.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'