OUDTSHOORN NUUS - Die bekende atleet, John April (30), het Sondagoggend sy vorige Comrades-tyd met 10 minute verbeter toe hy dié 87 km met 'n tyd van 6 ure, 34 minute en 17 sekondes afgelê het.
Die Comrades vind normaalweg jaarliks tussen Durban en Pietermaritzburg plaas, maar is vanjaar weens die nasionale inperkingsmaatreëls gekanselleer.
Een van April se vriende, Bianca la Grange (self 'n kranige atleet), het besluit om 'n plaaslike maraton vir hom te reël.
"Ek en John kom al van skooldae af aan en ek wou graag vir hom sy eie maraton reël omdat ek weet hoe hard hy vir vanjaar se Comrades geoefen het. Dit was aanvanklik net 'n idee, maar toe ons die slegte nuus hoor dat die Comrades beslis nie vanjaar gaan plaasvind nie, het ek daar en dan besluit om my moue op te rol sodat dit 'n werklikheid kan word. Dis toe dat ek besluit het om die Protea-fietsryer, Charlissa Schultz, ook te nader om saam met John die afstand aan te durf. John se oefenmaat, Anderson Ngube, het ook ingestem om as aflosdrawwer ingespan te word en vandaar af was dit net die logistieke reëlings wat in plek moes val. Ek is verskriklik trots dat hy sy passie vir almal kon ten toon stel. Om sy eie rekord te breek was vir my die kersie op die koek."
Dié wedloop het net na 07:00 op die Mosselbaai-pad naby Safari-volstruisplaas weggespring en is oor 'n sirkelroete van 13,6 km beslis wat April en Schultz ses en 'n half keer moes voltooi.
Wat die wedloop self betref het April gesê dat dit die eerste 60 km klopdisselboom verloop het. "Die laaste 30 km het ek egter met krampe begin sukkel. Gelukkig het my vriend en veteraanatleet, Jason Japhta, agter my met sy motor gery wat my bene tydens tussenposes met spiersalf uitgesmeer het. Omdat Japhta ook 'n voormalige verpleër is, was sy kennis van onskatbare waarde vir my. My oefenroetine is ontwrig deur die inperking en dit was dalk die rede vir die ontydige krampe," het April gesê.
April beplan om binne die volgende twee maande ook die Twee Oseane-maraton aan te pak wat oor 55 km sal strek.
La Grange en April het Toyota Oudtshoorn, Dryland Event Management, Oudtshoorn Spar, Jakhals Events en Jasmyn Bloemiste bedank vir borgskappe om dié Comrades moontlik te maak.
John April kom by die wenpaal aan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'