KLEIN-KAROO-NUUS - Die Eden- en Sentrale Karoo-onderwys-distrik het in 2025 'n sterk matriekslaagsyfer van 89,1% behaal en daarmee as die vierde beste presterende distrik in die Wes-Kaap geëindig.
Dit volg op 'n uitdagende matriekjaar waarin slegs twee onderwysdistrikte slaagsyfers bo 90% kon aanteken.
Topskole lei die pad
Verskeie skole in die Oudtshoorn-streek het besonder goed gevaar, met vier skole wat as toppresteerders uitgestaan het:
Langenhoven Gimnasium het sy 100%-matriekslaagsyfer van 2024 gehandhaaf en is daarmee die enigste hoërskool in Oudtshoorn wat hierdie uitsonderlike prestasie kon herhaal.
- Shalom Akademie het ook sy 100%-matriekslaagsyfer behou.
- Hoërskool Ladismith het 94,9%-slaagsyfer behaal.
- Bridgton Sekondêr en Hoërskool Protea het beide slaagsyfers van 93,8%.
- Hoërskool Calitzdorp het 'n slaagsyfer van 92,6%.
- Hoërskool Oudtshoorn se slaagsyfer is 92%.
- Ladismith Sekondêr het 'n slaagsyfer van 91,1%.
- Dysselsdorp Sekondêr het 'n slaagsyfer van 85,7%.
- Hoërskool Môrester het 'n slaagsyfer van 84,8%.
Langenhoven Gimnasium styg uit bo die res
Gimmies het verlede jaar 134 matrieks gehad wat die eindeksamen geskryf het, en het 'n graadgemiddeld van 63,1% behaal.
Die nuwe skoolhoof, Carl Snyman, het gesê hy is uiters trots op die prestasie: "'n 100%-slaagsyfer gebeur nie toevallig nie en kom beslis nie van een kant af nie. Ek is ongelooflik trots op al ons leerders en onderwysers wat met toewyding en deursettingsvermoë gewerk het om hierdie uitslag te behaal. Dit was werklik 'n gesamentlike poging," het hy gesê.
Nog van Gimmies se matrieks spog met hul uitslae. Foto: Liezl van Niekerk
Hy het ook sy vertroue in die matriekklas van 2026 uitgespreek en gesê die skool sien optimisties uit na hul toekomstige uitslae.
Theunis Venter is as Gimmies se top-matriekulant aangewys met 'n gemiddeld van 92,14%, gevolg deur Nika Potgieter (91%) en Annamé du Plessis (89,71%). In totaal het Langenhoven Gimnasium 12 A-kandidate en 183 vak A-simbole, en 122 leerders het vir 'n baccalaureusgraad gekwalifiseer.
Ten spyte van hierdie variasies bevestig die 2025-matriekuitslae steeds die Eden- en Sentrale Karoo-onderwysdistrik se sterk prestasie, met die topvier skole wat die akademiese standaard in die streek aandui en die toewyding van skole, opvoeders en leerders onderstreep.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’