OUDTSHOORN NUUS - 'n Groot eer het die 14-jarige Gyllinique (Nickey) Bruintjies te beurt geval na sy die geleentheid gekry het om deel te wees van Travel & Sport se 10de jaarlikse toer vir akademiese presteerders.
Nickey is 'n leerder van Langenhoven Gimnasium en volgens haar ma, Gaynor, 'n geweldige harde werker en toegewyde leerder.
Hierdie program sal haar die geleentheid bied om studiegeleenthede oorsee te verken.
Volgens Gaynor het Nickey gekies om Dubai toe te gaan.
"Sy kon kies tussen Amerika, Ierland en Engeland of Dubai. Haar groot droom was egter van kleins af om Dubai toe te gaan en nou kan dit bewaarheid word."
Op die toer gaan sy onder andere die geleentheid kry om drie privaat lesings by sommige van Dubai se voorste universiteite by te woon, 'n begeleide toer deur die stad, besoeke aan Burj Khalifa, Dubai Mall en Wild Wadi Waterpark, sowel as 'n Woestynsafari en braai-ete.
Gaynor sê sy is ongelooflik opgewonde oor die geleentheid.
"Haar groot droom is om eendag in die mediese rigting te studeer en as chirurg te kwalifiseer."
Volgens haar moet hulle ongeveer R65 000 insamel om haar te kan stuur en het daarom 'n BackaBuddy-veldtog van stapel gestuur om haar te help.
Besoek gerus BackaBuddy, Nicky's Fundraising Campaign, vir meer inligting.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’