OUDTSHOORN NUUS - Die Vryheidsfront Plus het verlede Donderdag 'n volwaardige tak op Oudtshoorn geopen met sowat 30 gemeenskapslede wat die verrigtinge by Baron's Palace bygewoon het.
By hierdie geleentheid het die tak ook sy eerste voorsitter (Jan van Niekerk), en sekretaris (Riaan Byleveld) gekies. Volgens adv. Gert van Niekerk, streekkoördineerder van die Vryheidsfront Plus, het dié party reeds 68 nuwe aansoeke vir lidmaatskap op Oudtshoorn ontvang.
Hy het beklemtoon dat die 30 mense wat die opening Donderdagaand bygewoon het nie 'n ware weerspieëling is van die party se ondersteuning wat hy op die dorp geniet nie.
"Talle mense het my na die tyd gekontak omdat hulle nie geweet het dat ons Donderdag by Baron's Palace bymekaar gekom het nie. Ons sal egter in die toekoms beter kommunikeer en ons volgende samekoms beter bemark," het hy gesê.
Die party beoog om in 2021 aan die plaaslike munisipale verkiesing deel te neem en is tans druk besig om hulself te organiseer.
Die nuutverkose Vryheidsfront Plus-tak op Oudtshoorn sien ook uit daarna om dr. Corné Mulder (VF Plus nasionale leier), Pieter Marais (premierskandidaat) en Erika Both (nasionale-onderleier) eerskomende Saterdag, 23 Maart, tydens die KKNK te ontvang en aan die breë publiek bekend te stel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'