Update Video
OUDTSHOORN NUUS - Die verskuiwing van 'n raadsvergadering na 'n privaat toerisme venue verlede Vrydag, het tot groot ontevredenheid van opposisiepartye en sowat 10 lede van die publiek gelei.
Die handjie vol ontevredenes het brande op die grottepad buite die wildsplaas begin uit protes dat hulle nie tot die vergadering toegelaat is nie.
Oudtshoorn se munisipale bestuurder, Allen Paulse, het verlede week kennis gegee dat Vrydag 29 Junie se raadsvergadering as gevolg van "sekuriteitsredes" nie in die raadsaal sal plaasvind nie. Die vergadering is in die konferensielokaal van 'n plek buite Oudtshoorn gehou.
Die Oudtshoorn Courant het verneem dat sekerheidswagte, wie se kontrakte ongeveer twee maande gelede by die munisipaliteit opgesê is, volgens politieke en munisipale leiers glo aangedui het dat hulle die vergadering in die munisipale gebou gaan ontwrig.
"Dit is die rede waarom die vergadering verskuif is," het 'n senior amptenaar aan die Oudtshoorn Courant gesê.
Hilary Carelse, 'n woordvoerder vir die afgedankte sekerheidswagte, het Woensdag ten sterkste ontken dat hulle enige planne gehad het om die vergadering te ontwrig.
Met die aanvang van die vergadering wou sowat tien lede van die publiek, wat hoofsaaklik uit ANC-lede bestaan het, die vergadering bywoon. Hulle is egter toegang tot die terrein deur die eienaar van die wildsplaas geweier.
ANC-raadslid Klasie Windvogel, het met die aanvang van die vergadering teenoor die speaker, Julia le Roux Krowitz, gekla dat die publiek by die ingang van die perseel toegang geweier word. Nondumiso Magopeni, die plaaslike ANC-hoofsweep, het aan Le Roux Krowitz gesê: "Ons mense staan daar buite, hulle word toegang geweier deur die eienaar."
Terwyl die munisipale bestuurder verduidelik het waarom die publiek toegang geweier is, het die ses ANC-raadslede en een Icosa-raadslid die vergadering verlaat.
Le Roux Krowitz het met 14 DA-raadslede, wat 'n kworum was, met die vergadering voortgegaan en die agenda van bykans 1 000 bladsye afgehandel.
Die eienaar van die konferensielokaal het aan die Oudtshoorn Courant gesê die lokaal is vir 'n gewone vergadering teen die normale tarief bespreek.
In reaksie op 'n navraag het hy gesê: "Die munisipaliteit het 'n versoek gehad vir 'n konferensielokaal waar hulle 'n vergadering wil hou. Die oggend van die vergadering is ons in kennis gestel dat dit wel 'n raadsvergadering is en dat ons die publiek kan verwag. Ek het self by die toegangshek gaan staan om toe te sien dat die gebeure ordelik sou geskied. 'n Groep mense is met 'n bussie by die teerpad afgelaai.
"Terwyl hulle na die toegangshek aangestap gekom het, het hulle egter reeds opmerkings begin skree. Ek het toe besluit om hulle nie toe te laat op die perseel nie as gevolg van die veiligheid van die personeel en oornaggaste."
Kyk 'n video hieronder:
Hy het ook bevestig dat die munisipaliteit die normale tariewe vir die lokaal betaal het. Hy het telefonies ook gesê dat 'n groep toeriste wat die wildsplaas wou besoek het van plan verander het toe hulle die brandende bande in die pad sien.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie het gesê geen klagte is gelê nie en die polisie het net voorkomend opgetree en die situasie ontlont.
Lees 'n vorige artikel: ANC en ICOSA loop uit vergadering
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'